KKaskenades: Varkwagteres Modise laat EFF deur uitsmyters uit parlement boender

Deel op

DA verlaat parlement tydens Zuma-toespraak, maar Pieter Mulder bly sit

Deel op

Nadat die hoofstroommedia weke lank gegons het oor hul jongste Amerikaanse akroniem, die SONA, het parlementslede gisteraand amper gesauna toe een so byna van al sy klere ontneem is deur ‘n uitsmyter. ‘n Vroulike EFF-parlementslid, Reneilwe Mashabela, se kakebeen is glo deur die uitsmyters afgeslaan en sy is agterna in ‘n (privaat) hospitaal behandel.

Baleka Mbete en Thandi Modise gisteraand in die parlement
Baleka Mbete en Thandi Modise gisteraand in die parlement

Tydens die spesiale sitting van die parlement om Zuma se grootse rede aan te hoor, het sowel die Speaker, Baleka Mbete, as Thandi Modise wat laas oor haar rampspoedige varkboerdery in die nuus was, voorgesit. Hulle was reg vir Julius Malema en Floyd Shivambu van die EFF wat vir Zuma wou vra “wanneer hy die geld vir Nkandla gaan terugbetaal soos die openbare beskermer beveel het”. Nóg Mbete, wat ‘n deftige hoed en tabberd gedra het, nóg Modise wou enige vrae toelaat en het toe die EFF op vraetyd aandring, ‘n groep polisie en gewapend privaatveiligheidswagte laat inroep om die rooigeklede party uit te smyt. Die toneel was meer gepas vir een van Kaapstad se rowwer nagklubs waar die dwelms deesdae onder DA-regering vrylik verhandel as vir die eens waardige parlement van Suid-Afrika.

‘n DA-lid wou agterna weet of die uitsmyters, wat wit hemde dra, polisie was of veiligheidswagte wat vir die parlement werk. Die voorsittende speaker en varkwagteres het dié vrae ontwyk of onkunde geveins, waarna die DA ewe teatraal, maar met minder geweld as die EFF, uit die parlement gestap het. Blykbaar het die DA ‘n beginselbeswaar teen pistole in die parlement, wat wel deur die manne in wit hemde gedra is.

Tydens sy toespraak het Zuma aangekondig dat die regering “vyftien duisend loodgieters gaan oplei om lekkende krane (in die lokasies) reg te maak”, maar geen woord gesê oor die onwettige elektrisiteitsverbindings wat insgelyks in dieselfde buurte “lek” nie. Uit sy opmerkings oor gas en energie, kom dit voor asof die ANC Shell se skaliegasprojek in die Karoo gaan goedkeur.

Sommige van die hoofstroommedia was minder geesdriftig oor die parlementêre kaskenades. Die ANC-mondstuk in Johannesburg, Beeld, het vanoggend as opskrif: “Ons parlement is flenters.”

Die webblad TimesLive berig dat die EFF agterna gesê het dat hulle aanstaande keer wapens sal saambring.

“Hulle het ons kennelik rondgepluk. Volgende keer sal ons gewapen wees,” het Floyd Shivambu gesê terwyl hy by die parlementtrappies in die reën afstap.

Malema het na Zuma as “ons nommer-een-tsotsi” verwys.

FW de Klerk, wat die mag aan die ANC oorhandig het, het ook die sitting bygewoon en tot almal se groot verbasing gesê: “Suid-Afrika stuur op ’n grondwetlike krisis af. Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.