Ambulans weier hulp in jongste Namibiese plaasaanval

Deel op

‘n Bejaarde egpaar is Woensdagoggend op hul plaas naby Hochfeld in Namibië deur vier gewapende swart rowers aangeval, vasgebind, aangerand en beroof, het die Republikein berig.

Die naaste ambulansdiens het egter hulp aan die wit egpaar geweier.

Mnr. Gernot en me. Renate Zander, albei in hul sewentigs, van die plaas Monteith sowat 50 km suid van Hochfeld, was volgens hul buurvrou, me. Heike Kash, gisteroggend tussen middernag en eenuur aangeval.

“Hulle was nog besig om TV te kyk, toe hulle ’n klop aan die deur hoor en aanvaar het dat dit hul plaaswerkers is. Vier gewapende mans het hul egter verras,” het Kash gesê.

“Mnr. Zander is wreed aangerand en met ’n swaar ystervoorwerp op sy kop geslaan wat erg gebloei het. Hy is ook op sy rug geslaan wat baie seer is. Me. Zander is gewurg. Hulle was albei vasgebind,” vertel Kash.

Me. Zander het gister in die vroeë oggendure met hul bakkie hulp by hul bure gaan soek nadat hul landlyntelefoon se drade uitgetrek en hul selfone gesteel is.

“Sy beskryf die gewapende mans as een lange en drie kortes. Sy is ook nie seker wat alles gesteel is nie, maar ’n vuurwapen en hul selfone is weg,” sê Kash.

“Die mans het aangedring op geld, maar daar was nie baie geld nie, net in hul beursies. Die Zanders is gedwing om hul kluis oop te sluit en die slaapkamer is omgedolwe.”

Die polisie van Hochfeld en Okahandja was op die toneel. Ses verdagtes, van wie vier in die huis was, is nog op vrye voet. Die kommunikasiehoof van die polisie, adj.kom. Edwin Kanguatjivi, het die voorval bevestig.

Volgens die polisie wou geen private of staatsambulans uitkom na die plaas nie. Mnr. Zander se dogter het met hom na ’n hospitaal in Windhoek gejaag waar hy steke vir sy wonde gekry het en X-strale geneem is.

’n Boer in die omgewing, mnr. Marius Basson, het aan Republikein gesê dit is die tweede keer in vier maande wat mense op plase in hul omgewing aangeval is. “Die Hammans (die bekende Afrikanerbeesboer, mnr. Eddie Hamman se ma en suster), ongeveer 30 km van ons af, is so vier maande gelede aangeval en die Zanders is 20 km van ons af.”

Skaars minder as ’n maand gelede is nog ’n bejaarde egpaar in die Ooste aangeval. Mnr. Acker en me. Dorea von Moltke is op 18 Janaurie op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die pad na Summerdown, deur twee mans oorval, vasgebind en beroof. Mnr. Von Moltke, ’n bekende oudonderwyser, was erg aangerand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.