Spraakvryheid onder skoot: ANC, Leopold Scholtz, Max du Preez

As ek die gemeenplasige braaksels van die Naarperswerfbobbejane lees wat Adderjan Basson, die koning van die Boerehaters, in sy Haatbeeld opdis, kan ek soms nie agterkom of hulle onnosel, geestelik versteurd of maar net erg sinies is nie.

Tans neem onverdraagsaamheid teenoor anders- of bloot nugterdenkendes in Suid-Afrika kommerwekkend toe. Daardie hoëpriester van politieke korrektheid, Max du Preez, het so pas in die Naarpersblaaie aangekondig dat daar ‘n soort Middeleeuse Indeks of swartlys opgestel moet word van mense wat glad nie werk mag kry nie en as’t ware deur die samelewing verstoot moet word om in ‘n geestelike goelag te krepeer. Sulke mense wat ‘n “gevaar vir die samelewing” verteenwoordig, is die “wit rassiste” waaronder veral Afrikaners skrywers en sangers wat kritiek teen geweld, diskriminasie, korrupsie, Eskom en ander aspekte van die ANC-SAKP se rampspoedige bewind uitspreek. Vermoedelik sien Max du Preez vir my en Steve Hofmeyr in sy geestesoog as hy sy totalitêre drome droom oor sy ideologiese vyande wat agter doringdraad in ‘n strafkamp of saam met Clive Derby-Lewis en die Boeremag in Pretoria-Sentraal vergaan. Dat ons soos Clive deur opgesteekte swartes met gebreekte bottels aangeval sal word, maak waarskynlik deel uit van Mal Max se sadistiese dagdroom.

roodt_fbfotoFeitlik terselfdertyd het die ANC in die Oos-Transvaal, oftewel Mpumalanga (al dié ANC-name lê al swaarder op my tong), aangekondig dat hy die Innibos-kunstefees gaan straf deur nie meer polisie of verkeersbeamptes na die fees te stuur nie. Trouens, volgens die verklaring wat deur die ANC uitgereik is, is enige Afrikaanse kunstefees wat nie “rassieel inklusief” (lees: oorwegend swart en Engels) is nie, voortaan taboe. Dat die Innibosfeeskomitee dus vir Steve Hofmeyr “ontnooi” het in ‘n kruiperige poging om polities korrek te wees, het niks gehelp nie.

Die hele gedoe rondom Die Stem en Afrikaanse kunstefeeste wat nie “inklusief” is nie, herinner sterk aan die dekrete wat in die doodsnikke van Oos-Europese kommunisme in die Baltiese state (Estland, Letland en Litoue) uitgevaardig is toe die bevolking insgelyks verbied is om hul volksliedere in hul eie tale te sing!

Vandat die Litous-gebore kommunis, Joe Slovo, die Nasionale Party se onderhandelingspan in die vroeë negentigerjare oorrompel het, is Suid-Afrikaners gebreinspoel om vele bedenklike aspekte van kommunisme te aanvaar, onder meer ‘n streng ideologiese en kulturele eenvormigheid. As jy nie vir Slovo, Kasrils, Bernstein, Mandela en die ander Rivonia-aangeklaagdes vereer en aanbid nie, is daar nie meer vir jou plek in ons samelewing nie. Dan is jy, om Sowjettaal te gebruik, ‘n “vyand van die staat”. Of ‘n “rassis”.

As u reeds deur die allesverterende propaganda wat vanuit die SAUK, Naarpers en die res van die hoofstroommedia op ons neergiet beïnvloed is, neem bloot ‘n paar treë terug soos ons hier op praag probeer doen. Dalk sien u die groter prentjie raak. In watter ander land ter wêreld word onskuldige volksliedere vandag verbied en word mense nie toegelaat om teater en sang in hul eie taal aan te bied nie? In watter ander land lewer die grootste privaat mediagroep, maar wat die staatsideologie 90% ondersteun, ‘n pleidooi vir ‘n swartlys vir skrywers en sangers? Afgesien van Kuba, Noord-Korea en enkele ander plekke waar twintigste-eeuse kommunisme steeds in ere gehou word, weet ek nie van sulke lande nie.

Terloops, ironies genoeg het dieselfde Britse ambassadeur wat FW de Klerk oorreed het om onvoorwaardelik aan die Kommunisteparty en die ANC oor te gee, Lord Robin Renwick, onlangs gesê:

Oral ter wêreld is Karl Marx dood, behalwe in Suid-Afrika.

Iemand wat insgelyks sterk na kommunisme terugverlang, is nog ‘n Naarperssluipskrywer, Leopold Scholtz. Sy idee is minder middeleeus as Mal Max se swartlys-indeks, en slaan meer op die grysskoen-Oos-Duitse model van die voormalige Stasi wat mense dopgehou en gemanipuleer het ten einde die kommunistiese hegemonie in stand te hou.

In sy fundamentalistiese roes beroep Mal Max hom op sensuur: die ketters en ongelowiges moet geswartlys of opgesluit word. Scholtz se totalitarisme is egter ‘n raps meer subtiel: hy bied sensuur en denkbeheer in die naam van “vryheid” aan. In nog ‘n hagiografie aan die stereotipe anglomaan en nuttige idioot, André P. Brink, gee Leopold die Kruiperkaner hoog op oor vryheid, vermoedelik “meningsvryheid”. Kennelik keur hy die verbod op volksliedere te Nelspruit goed (om van Afrikaans self nie te praat nie), want hy kry ‘n aanval van grondwetterisme soos Hermann Giliomee al daarna verwys het:

“In verskeie opsigte is ons almal, Afrikaners en Suid-Afrikaners, vandag vry om te dink en – binne die perke van die Grondwet – te sê wat ons wil.

Dis vandag deel van ons vryheid. Ons moet dit nooit weer van ons laat wegneem nie.”

Hoewel ek die enigste persoon is wat onder die Nasionale Party spesifiek onder die sensuurwet van destyds in die hof aangekla is, kan ek in alle eerlikheid sê dat ons toentertyd oor veel meer meningsvryheid as vandag beskik het. Selfs Scholtz noem dat André P. Brink, wat Bram Fischer en kommunistiese terreur openlik gesteun het, elke Sondag in Rapport geskryf en op sy bevooroordeelde manier ander skrywers se boeke resenseer het. Met die koms van Slovoïsme en die ellendige Kruiperkaners wat voor die huidige bewind koutou, kan ons nie eens vra dat ons korrek deur die ANC se werfbobbejane by Naarpers aangehaal word nie, wat nog te sê dat ons versoek sou word om enige menings uit te spreek of boeke te resenseer!

Vir lesers wat nie bekend is met die Chinese begrip "koutou" nie, só lyk dié vorm van eerbetoon
Vir lesers wat nie bekend is met die Chinese begrip “koutou” nie, só lyk dié vorm van eerbetoon

In hierdie “vrye Suid-Afrika” met sy swartlyste, heksejagte, aanhoudende beskuldigings van “rassisme” en “ideologiese onsuiwerheid” – presies soos in voormalige kommunistiese lande – is ons, volgens die epigoon van politieke korrektheid,  Leopold Scholtz, “vandag vry om te dink en – binne die perke van die Grondwet – te sê wat ons wil”.

Ten minste beskik die man oor ‘n (swart) humorsin! Terwyl hy, Mal Max, die ANC in Mpumalanga en Blade Nzimande alles in hul vermoë doen om ons tot ‘n nag van die denke donkerder as Eskom se kragonderbrekings te verdoem, moet ons op ons knieë gaan om dankbaarheid oor ons grondwetterse vryheid te betuig!

As ek die gemeenplasige braaksels van die Naarperswerfbobbejane lees wat Adderjan Basson, die koning van die Boerehaters, in sy Haatbeeld opdis, kan ek soms nie agterkom of hulle onnosel, geestelik versteurd of maar net erg sinies is nie.

Seker eerder laasgenoemde. Dink volgende keer daaraan as u nie vir werk mag aansoek doen nie omdat u te wit is of op die komende ideologiese swartlys verkeer, of as daar ‘n maniak met ‘n vuurwapen by u huis inbars om u en u gesin te bedreig:

“U is vry!”

Die grondwetters sê so.

Besef egter ook die volgende: As dit nie vir die internet was en dat die kaders ewe min van IT as van elektrisiteit af weet nie, sou ek en u nie vandag hierdie vir mekaar kon skryf nie.

En as dit van Adderjan, Leopold, Max en die ander sinistere verraaiers afhang, sou hulle ons graag in ‘n Afrikatronk wou laat smyt waar ons in haglike omstandighede vir ons “denksondes” behoort te boet!

Aan die ander kant: indien die wiel ooit weer sou draai en dié bewind stort in duie soos die muur rondom Leopold se geliefde Oos-Duitsland geval het, dink ek dit sou gepas wees dat al diegene wat ons vandag met hul heksejagte teister as meelopers gestraf word. Miskien sou die vuurpeleton of die galgtou te erg wees, maar hulle mag nie vir altyd wegkom met die skade wat hulle deur hul siek propaganda aanrig nie. Elke dag sterf daar boere, word daar kinders, oumense en vroue verkrag, met geen hoop op uitkoms nie, juis omdat die meelopers in hul slaafse toewyding aan die ANC enige ware opposisie in die kiem smoor.


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.