Drie swart Zimbabwiërs is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op die voormalige swaargewigbokskampioen Corrie Sanders.
Die staatsaanklaer het gesê sulke gedrag van Zimbawiërs lei tot aanvalle teen buitelanders. “Jy het net pyn en lyding na Suid-Afrikaanse gesinne gebring,” het die staatsaanklaer gesê.
Sanders (46) is tydens ‘n rooftog geskiet, en is die volgende dag in die Kalafong-hospitaal oorlede.
Hy het sy broerskind se 21ste verjaarsdagviering bygewoon by ‘n restaurant buite Brits toe hulle deur die drie swartes oorval is.
Regter Ferdi Preller het Paida Fish (21), Chris Moyo (28) en Samuel Mabena (29) in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Sanders is getref toe hy sy dogter Marinique wou beskerm. Hy was reeds swaar gewond toe hy haar na die grond toe getrek het en gesê het sy moet maak of sy dood is.
Die aanvallers het die gaste van hul persoonlike besittings soos handsakke, selfone en kontant beroof. Twee van die gaste kon Fish en Moyo tydens ‘n uitkenningsparade identifiseer.
Die drie swartes is ‘n paar dae later in Oukasie-lokasie gevang met die gesteelde items. Een het ‘n gegraveerde horlosie van een van die gaste gedra wat hy met ‘n rekkie om sy arm vasgemaak het. Die ander twee het onder meer motorsleutels en simkaarte van die gaste in hul besit gehad.
Sanders het in 46 gevegte slegs vier keer verloor en 31 keer gewen deur ‘n uitklophou. Hy het die WBO-swaargewigtitel in Maart 2003 in Hannover, Duitsland ingepalm nadat hy Wladimir Klitsckho van Oekraïne in die tweede ronde met ‘n uitklophou platgeslaan het.
Die swartes word Woensdag gevonnis.