Die sekretaris van die ANC in Limpopo, Knocks Seabi sê die Munisipale Afbakeningsraad kan dalk sy besluit oor Malamulele verander nadat etniese konflik tussen Vendas en Tsongas die gebied reeds weke lank teister.
Die Afbakeningsraad het vroeër die Tsongagemeenskap se eis vir ‘n eie munisipaliteit van die hand gewys.
President Jacob Zuma het vroeër gesê dit sal terugreik na tuislande en is onaanvaarbaar.
Vier skole, ‘n regeringspakhuis en `n winkel is reeds aan die brand gesteek in die protesoptrede wat al meer as vier weke duur.
Seabi sê die ANC en die inwoners van Malamulele sal nuwe voorleggings by die Afbakeningsraad indien.
Volgens hom sal die ANC sy eie voorlegging en die inwoners hul eie voorlegging maak.
Die Tsongasprekers beskuldig die Thulamela-munisipaliteit daarvan dat hy nie basiese dienste soos water en sanitasie aan hulle verskaf nie.