Lyke in Windhoekse hospitaalsaal gelaat

Deel op

Die lyke van twee pasiënte wat tydens hul opname in Saal 4 Wes in die Windhoek Sentrale Hospitaal op dieselfde dag gesterf het, is glo vir ure daarna steeds in hul onderskeie kamers tussen ander pasiënte gelaat, voordat die liggame verwyder is.

Volgens ’n voormalige pasiënt is gordyne glo bloot rondom die oorledenes se beddens getrek om dit af te skort, het die Republikein berig.

Die swart personeel se verweer was dat daar eenvoudig geen ander of nog plek is waar die lyke tydelik gestoor kan word, totdat ’n dokter die doodsertifikate­ kan uitreik en dit verwyder­ kan word nie.

Die voormalige pasiënt moes self die eerste twee aande van haar opname in die saal saam met agt ander vroue in die gang slaap, omdat kamers tot oorlopens toe vol was. Ook hier het matrasse met pasiënte­ gelê.

Toe sy uiteindelik na ’n kamer oorgeplaas­ het, het sy dit gedeel met ’n pasiënt wat in ’n koma was.

“Ons was drie in die kamer, ek op die bed, nog een wat op die vloer gelê het en die pasiënt wat in ’n koma was”.
Later sou een van die personeel aan haar sê dat die pasiënt in die koma die middag beswyk het. Haar lyk was egter nie verwyder nie.

“Ons het gaan kyk en daar lê sy tussen die ander pasiënte­, die gordyne is net om die bed toegetrek­. Toe ek vra hoekom, toe sê ’n verpleegster­ ‘jy kan mos sien die hospitaal is vol, daar is geen ander plek om haar te sit nie’”.

Op dieselfde dag het ’n ander pasiënt gesterf wat ook in ’n koma in Saal 4 Wes was. Ook dié pasiënt het glo tot omstreeks 22:00 tussen ander pasiënte­ gelê totdat ’n dokter die doodsertifikate kon onderteken­ en die lyke verwyder kon word.

Volgens die voormalige pasiënt is die stank ook ondraaglik.

“Terwyl die koma-pasiënt nog by my in die kamer was, het sy al geruik. Elke keer as jy in die kamer instap, dan ruik jy dit. Ek kon nie eet nie, ons het maar met die vensters­ oop geslaap”.

Sy het gebid dat sy nooit weer hoef terug te gaan nie. Want hier, sê sy “gaan jy op jou twee voete in en kom jy op jou rug uit”.

“Ek het vir die Here gevra ek wil nooit weer soontoe gaan nie. Ek sterf eerder by die huis as om weer in daardie hospitaal te beland. Ek kry die volgende pasiënt wat daar moet lê, baie jammer.”

Volgens haar moes sy voor haar voorafgereëlde opname in Saal vier Wes eers vir toetse en X-strale na die Katutura-staatshospitaal gaan, voordat sy uiteindelik laat die aand in die Windhoek Sentrale Hospitaal­ opgeneem is. Sy sou ook eers drie dae wag om ’n dokter te sien, haar lêer was weg en is sy nooit amptelik­ opgeneem nie. Pasiënte­ moes mekaar maar help en ondersteun­.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.