Innibos se redes waarom hulle Steve nie meer nooi nie

Deel op

In ‘n epos wat onlangs op Facebook geplaas is, verduidelik die bestuur van die Inniboskunstefees waarom Steve Hofmeyr nie meer by hul fees welkom is nie. Ons plaas dit hier omdat die inhoud eintlik vanself spreek. Nie net weerspreek dit die sogenaamde “grondwetlike waardes” waaroor al die polities korrektes so hoog opgee nie (meningsvryheid, artistieke vryheid), maar dit toon ook ‘n wanbegrip van waaroor musiek en kultuur uiteindelik gaan: ‘n bepaalde greep op die wêreld wat noodwendig ook iewers “polities” gaan wees. Dít waarvoor die linkses juis voorspraak maak, dat kuns “polities betrokke” moet wees, word deur die bestuur van die Innibosfees verbied!

Renske du Preez se brief aan Innibos:

Graag wil ek my teleurstelling bekend maak met die manier waarop julle kwansuis Afrikaans en die kultuur bevorder.
Steve was goed genoeg toe julle ‘n onbekende fees was. Afrikanerondersteuning het julle “op die map” gesit, en nou dat julle ‘n groot fees is, maak julle soos enige tiener, pa en ma se ondersteuning is nie meer nodig nie, ons sal op ons eie regkom.

Jammer dat julle soos die tieners, julle lesse op die harde manier sal moet leer.

Geen Steve, geen ondersteuning.

Trots Afrikaans.

Antwoord deur Sandra Jacobs van Innibosbestuur:

Liewe Renske
Dankie vir jou e-pos

Ek verstaan dat sy ondersteuners baie ontseld is dat ons nie vanjaar vie Steve genooi het om by innibos op te tree nie, maar laat ons asseblief toe om te verduidelik wat daartoe gelei het. Miskien sal dit jou ‘n bietjie beter begrip van ons situasie gee:

Ons het niks teen Steve as kunstenaar of mens nie maar ons beleid is baie eenvoudig dat ons nie gaan toelaat dat enige kunstenaar ons verhoë gaan misbruik om hul eie politieke beeld te bou nie. Moenie so naïef wees om te dink dat hy Die Stem gesing het bloot as ‘n mooi Afrikaanse volksliedjie nie! Steve is ‘n opportunis wat elke moontlike geleentheid gebruik om sy eie beeld te bou deur op die regte emosies te speel. Ons het van hierdie jaar af ‘n klousule in ons kontrak waarin kunstenaars moet onderneem om geen Godslasterlike of polities-sensitiewe inhoud in hul optrede in te sluit nie. Dit geld ook vir lirieke van liedjies, ens. Dit is ‘n gedragskode wat ons as billik en beskaafd beskou en Steve weier om hom daaraan te onderwerp. Hy het openlik gesê dat hy hom nie sal laat voorskryf wat hy van ‘n verhoog af gaan doen of sê nie. In die lig daarvan het ons besluit om hom nie uit te nooi nie. Dit is Steve wat daardeur homself uit Innibos weggelaat het. Weet ook verseker dat Innibos nie ‘n “Afrikaner” fees is nie maar ‘n Afrikaanse kunstefees vir alle Afrikaans-sprekende Suid Afrikaners van alle rasse en ook vir mense van ander taal- en kultuurgroepe wat die fees saam met ons wil geniet. Ons sal geen diskriminase van enige aard hier duld nie.

Jy moet dus vir Steve blameer as jy nie meer fees toe kan kom nie. Drie vrae aan jou: Sou jou plaaslike skool vir Steve uitnooi om Die Stem by hulle saalbyeenkoms te kom sing – nooit, want dit is nie die regte platform daarvoor nie! Dink jy dat jou kerk vir Steve sal uitnooi om Die Stem op ‘n Sondag oggend by die kerk te kom sing – nooit nie, dis nie die regte platform daarvoor nie. Dink jy dat die rugbyraad vir Steve sal uitnooi om Die Stem by ‘n toets te gaan sing – nooit nie want dit is nie die regte platform nie.

Waarom moet Steve toegelaat word om dit by ‘n kunstefees te doen wat uitsluitlik vir kulturele vermaak daargestel is.

Ons gaan nooit toelaat dat politiekery weer op ons verhoë gaan gebeur nie!

Dit is die enigste rede hoekom Steve nie by Innibos gaan optree nie – hy weier om by ons gedragskode in te val.

Laat ek dit asb duidelik stel; ons het niks teen Die Stem as lied nie. Baie van ons het daarmee grootgeword en dit het vir ons almal ‘n diep gesetelde nostalgiese betekenis. Dit is egter net so verkeerd om Die Stem op ‘n openbare verhoog te sing as om die ou landsvlag op die verhoog rond te swaai. Dit maak ‘n politieke “statement” en dit is onaanvaarbaar in die nuwe Suid Afrika en daarom sal ons dit nie op ons verhoë toelaat nie.

Dit is ‘n hartseer dag as mense toelaat dat een persoon hulle so kan breinspoel dat hulle wonderlike geleenthede soos kunstefeeste wil boikot. Ons (en al die ander feeste) werk al vir jare daaraan om vir ons eie kultuurgroep geleenthede te skep waar hulle die taal en kultuur kan uitleef. Dis omtrent al wat ons oor het! Innibos was nog altyd goed genoeg – en vir baie jare sonder Steve. Maar noudat hy alles kom bederf het met die Stem singery verlede jaar is ons nou ewe skielik die vark in die feëverhaal? Steve kan dit nie verdra dat Innibos die ruggraat gehad het om hom nie uit te nooi nie – die fees wat in sy eie woorde die grootste Afrikaanse gehoor in die wêreld is. Omdat hy suur is daaroor en waarskynlik in sy ego gekrenk is doen hy ‘n beroep op feesgangers om weg te bly van iets wat vir hulle belangrik geword het. Hoe kan enige iemand so verwaand wees! As jy jouself groter begin ag as die saak wat jy dien is jy op die verkeerde pad. Dit is hartseer dat Steve nie sy invloed wil gebruik om versoening te bewerkstellig in hierdie land in plaas van om verdeeldheid tuseen Afrikaanse mense en ook ander kulture te saai nie.

Dit sal jammer wees om julle as feesgangers te verloor maar jy moet vir Steve daarvoor blameer en nie Innibos nie. Ek vra maar net dat julle dit mooi oordink en al die faktore wat ek genoem het in ag neem. As al die belangrike feeste in SA vir Steve weglaat moet daar iets fout wees, nie waar nie? Dink jy dat verantwoordelike direksielede van feeste sommer so ‘n besluit ligtelik sal neem sonder dat daar baie goeie redes daarvoor is?

Ons gaan nietemin voort om ons bes te doen om Afrikaanse kultuur en taal te bevorder met puik musiek, toneel en woordproduksies. Ons volledige program word op 15 Mei bekendgestel.

Groete,
Sandra Jacobs
Media & Bemarkingsbestuurder
Innibos Nasionale Kunstefees

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.