Die voormalige Palestynse terroris, Leila Khaled, het die bedrywighede van die militante groep, die Islamitiese Staat, skerp veroordeel.
Sy het gesê die dade van ISIS is vergelykbaar met dié van verregse Joodse setlaars en Sioniste wat apartheid en rassisme ondersteun het. ISIS word hoofsaaklik deur Saoedi-Arabië befonds om Wahabi-Islam, ‘n fundamentalistiese Moslemvertakking, te bevorder.
By ‘n plegtigheid waar die voormalige intelligensieminister Ronnie Kasrils ook teenwoordig was om ‘n boikotveldtog teen Israel te loods, het Khaled ISIS se onthoofdings as terreurdade bestempel.
Minister Malusi Gigaba het Khaled by OR Tambo lughawe ingewag saam met Umkhonto We Sizwe en ander ANC-organisasies.
Sy is in Suid-Afrika as gas van die Boycott, Divestment and Sanctions-beweging. Die aktivis het Port Elizabeth besoek as deel van haar landwye besoek aan Suid-Afrika.
Khaled het in 1969 eiehandig ‘n vliegtuig gekaap, een van verskeie. Vlug TWA 840 is opgeblaas nadat die gyselaars ontset is.
Sy het die onlangse moord op die Jordaniese vlieënier vergelyk met die branddood van ‘n Palestynse tiener Mohammed Abu Khdeir in Jerusalem verlede jaar deur regse Jode.
Na die publikasie van ‘n ikoniese foto van Khaled waar sy ‘n AK-47 ophou, geklee in ‘n keffija, het sy “ses operasies aan haar neus en ken” gehad “om haar identiteit te verberg”, maar dié is sedertdien glo omgekeer.
Bronne beweer egter dat die beweringe oor plastiese chirurgie onwaar is omdat die persoon op die foto nooit Khaled was nie, maar ‘n model wat vir die foto geposeer het.