President Jacob Zuma het koerantredakteurs van die dooieboommedia by die Presidensiële Gastehuis in Pretoria ontmoet ter voorbereiding van sy staatsrede.
Dié stap kom te midde van ‘n groeiende ongemak by Afrikaners dat hulle geen politieke verteenwoordiging meer geniet nie en van alle invloed gestroop is, ten spyte van die enorme rol wat Afrikaners steeds speel om die land leefbaar te maak na FW de Klerk se onbesonne oorgawe.
Zuma het dié vrese bevestig. Hy het korte mette gemaak van die gedagte dat blankes ‘n spesiale rol het en gesê alle rasse moet aanvaar dat hulle gelyk is.
Zuma het ook verwys na etniese verskille wat nie geduld sal word nie.
By die Curro Roodeplaat-privaatskool is die rasverdeling onlangs deur swartes gekritiseer. Een van drie klasse, almal Engels, het 6 wit kinders gehad en 12 swartes. Die ander twee was net swart, maar swart ouers is glo woedend omdat daar nie wit kinders in die ander twee klasse is nie.
Zuma het gesê die ANC sal nie swig voor die geweld in Malamulele in Limpopo nie, waar Tsongas beweer dat die Thulamela-munisipaliteit van Vendas teen hulle diskrimineer op grond van etnisiteit.
Zuma het gesê dit sal die Bantoestans laat herleef as die Tsongas se versoek toegestaan word, en daarom het die munispale afbakeningsraad het teen ‘n eie munisipaliteit vir Malamulele beslis.
“Etniese verdelings is nooit iets wat aangemoedig moet word in ons land nie. Om mense op grond van hul stam te verdeel is gevaarlik.”
“Dit is belangrik dat ons die wet nakom. Daar is byvoorbeeld munisipaliteite wat nie volhoubaar is nie en ons werk aan ‘n plan om hulle weer in te deel. Maar die wet kan nie gebruik word om etnisiteit te bevorder nie. Ons land het reeds geweldig daaronder gely.”
Hy het die dooieboomjoernaliste die versekering gegee dat hy nie skuldig is aan enige wanbesteding wat betref uitgawes aan sy privaatwoning op Nkandla nie.
Zuma het gesê hy betaal ‘n verband op die huis, maar niemand skryf daaroor nie. Hy het bygevoeg dat oudpres. PW Botha ‘n “onlewensvatbare” lughawe vir homself by George laat bou het.
Die President het verwys na die EFF wat eis dat hy die geld terugbetaal, maar gesê die ondersoek is nog nie afgehandel nie.
Hy het ook gesê wat betref die Staatsrede verwag hy dat die parlementêre reëls nagekom sal word.