Terug na die volk: ‘n literêre slagspreuk?

Geruime tyd reeds dink ek daaraan om iets oor die Afrikaanse letterkunde te skryf, daardie letterkunde wat dreig om saam met ons taal uit te sterf soos wat Engels en politieke korrektheid tsoenami-gewys oor ons spoel. Miskien bied die dood van André P. Brink eergisteraand ‘n gepaste oomblik vir nabetragting oor die rol van letterkunde in die lewe van elke volk.

roodt_dan_wikiHoe minder daar egter oor André P. Brink gesê word, hoe beter. Vir my verteenwoordig hy die FW de Klerk van die letterkunde. Lank voordat FW hom met gelatenheid tot politieke korrektheid en ‘n slaafse navolging van Britse idees gewend het, het Brink dit gedoen. Toevalllig kom albei ook uit Dopperhuise en het aan die PUK gestudeer; moet ons iets daarin lees? Hoewel Brink met Frankryk gedweep het en allerlei toeristiese gemeenplase oor Parys kwytgeraak het – onder meer dat hy “op ‘n bankie in die Luxemburgtuin gebore is” – het hy daardie land, asook sy skrywers en denkers nooit behoorlik verstaan nie. Ek het dit destyds as twintigjarige student agtergekom en hom so bietjie in die destydse Rapport daaroor probeer uitvra, waarop hy met kenmerkende bitsigheid geantwoord het. Doer in die sewentigerjare kon ‘n mens nog in Rapport ‘n literêre polemiek voer, terwyl dié koerant met sy dalende sirkulasie ons deesdae net met polities korrekte propaganda oor die kop knuppel. In ‘n hoë mate is die Afrikaanse kultuur en gesprekke daaroor besig om na die internet te migreer, terwyl die meer tradisionele instellings streng onder ANC-beheer verkeer.

Die ANC en sy meelopers – soos die hand vol Afrikaanse skrywers wat dié party en sy geskiedenis van propaganda en terreur aanbid – poog om te bepaal wat ons mag lees en wat ons behoort te dink. In die plek van die Afrikaanse letterkunde het hulle hul ‘n “Suid-Afrikaanse letterkunde” verbeel wat uit figure soos die Boerehater Nadine Gordimer, Brink, Antjie Krog en ‘n horde middelmatige swart skrywers bestaan. Die “Suid-Afrikaanse letterkunde” is Engels, met ‘n paar vertalings uit Afrikaans of “tweetalige werke” soos Brink s’n, wat daarby aangelas word. En iewers prewel iemand die reël uit Rusty Bernstein se “Freedom Charter”: “that South Africa belongs to all who live in it, black and white”… Behalwe dat die boere kwansuis die swartes se plase “gesteel het”.

Ek het dit al iewers voorheen gesê: Ons beleef iets soos ‘n besetting, die Derde Britse besetting, of dalk is dit dié keer ‘n Engelse Nguni-besetting, maar ‘n mens is baie bewus daarvan dat jy deur vreemdes regeer word wat ook hul taal op jou afdwing, soos wat die Britte al meermale in ons geskiedenis gedoen het.

Vandaar dan ook die pogings om Steve Hofmeyr by kunstefeeste te verbied. Om Afrikaanse liedjies – veral met heelwat Engelse woorde – te sing, is steeds toelaatbaar, mits dit ter ere van die vreemde bewind gedoen word. Sangers moet egter op plekke optree en moet glo “genooi” word. Daarom word die Afrikaanse musiekbedryf, wat ná 1994 ‘n onverwagse opbloei beleef het, toenemend beheer en gesensureer. Jy mag nie “Die Stem” of “Die lied van jong Suid-Afrika” of “De la Rey” sing nie. Of binnekort dalk ook nie meer die “Oukraalliedjie” nie. Dis “te polities”. Want sien, netnou word almal daaraan herinner dat daar nog Afrikaners – naas die “Suid-Afrikaners” wat almal skeef en krom die Rooitaal vir mekaar gooi – in die land bestaan.

Aan die ander kant is dit glad nie “polities” vir Karen Zoid om te sing van swartes wat “die skole afbrand” nie, want sy is mos ‘n anti-Afrikaner en ANC-meeloper. Dis nie soseer wát jy sing nie, dis wié dit sing. Maar ook: solank jy soos Karen Zoid multikultureel nihilisties is (“dit maak nie saak nie”), is alles dooddollies en mág jy maar.

Musiek is op ‘n sekere vlak vermaak. Daar is egter iets ondermynends aan ‘n boek. ‘n Maand gelede het daar ‘n boek in Frankryk verskyn, Onderwerping, uit die pen van Michel Houellebecq wat die bekering van sy hele land tot Islam in die vooruitsig stel. Dis sekerlik nie ‘n polities korrekte roman nie. In Suid-Afrika en in Afrikaans sou geen groot uitgewer selfs so ‘n boek publiseer nie, want dit verteenwoordig mos geen ophemeling van die multikulturele samelewing, gedwonge integrasie, “meng”, seks tussen rasse (Brink se obsessie) en alles wat daarmee saamhang nie. Dis eerder… “reaksionêr” en hoewel Houellebecq in sy jeug ook vir ‘n kort rukkie met die Franse Kommunistiese Party deurmekaar was, skram hy nie van die etiket “reaksionêr” weg nie. Hy het selfs al erken dat hy een van die “nuwe reaksionêre” is, ‘n losse versameling skrywers en denkers wat durf om begrippe soos “witskuld” en multikulturalisme te bevraagteken. Hulle vra ook belangrike vrae oor die toekoms van Frankryk en die Westerse beskawing in essays en romans wat wyd en syd gelees word, asook in die media aangehaal en bespreek word.

Suid-Afrika onder die ANC is egter nie Frankryk nie. Dis ‘n toenemend barbaarse, filistynse, agterlike land waar bier drink, vreet en fuif mode is – afgewissel met ‘n bietjie kwotarugby en geenkwotasokker. Kwalik ‘n omgewing waarin die kunste en veral letterkunde kan gedy! Ek staan eenvoudig verstom oor hoe die Europeërs en veral die Skandinawiërs met rojale staatsteun hul tale en letterkundes bevorder. Hier ondersteun die staat net Nkandla en nuwe BMW’s vir staatsamptenare.

Nou onlangs wissel ek ‘n epos of twee uit met ‘n jongerige letterkundige; anders as die polities korrekte literatore van Stalinbos het sy darem haar doktorsgraad klaargemaak. Sy het egter heeltemal haar geesdrif vir die Afrikaanse letterkunde en uitgewerswese verloor en gaan haar nou heeltemal in ‘n nuwe beroep begewe.

Soos die Afrikanerpolitiek, het die Afrikaanse letterkunde die nulpunt bereik, die degré zéro waarvan die Franse praat. Saam met die res, kwyn dit eenvoudig weg en word ons in gemors verswelg deur mense wat niks van denke, idees of ‘n skryfstyl verstaan nie.

Waarom is letterkunde belangrik? Iewers in die laat sestiger- of vroeë sewentigerjare het N.P. van Wyk Louw blykbaar tydens iemand anders se intreelesing aan die Universiteit van die Witwatersrand opgespring om te beklemtoon dat die opkoms van Afrikaans deel van die nasionalistiese oplewing van kleiner kulture aan die einde van die negentiende eeu in Europa was.

In vele opsigte word enige nasionale kultuur – meer as enigiets anders – deur letterkunde gevorm. In lande soos Frankryk of Rusland het meer mense al die begrafnisse van groot skrywers soos Victor Hugo of Leo Tolstoi bygewoon as die teraardebestellings van politici. Letterkunde word ook op skool saam met die taal gedoseer. Ek het al voorheen die Duitse filosoof Peter Sloterdijk aangehaal waar hy praat van boeke as “dik briewe wat vriende tradisioneel aan mekaar gestuur het”.

Selfs as Eskom die ligte afsit, kan jy nog ‘n papierboek lees, mits dit dag is of jy darem saans ‘n kers of flitsie byderhand het. Anders as musiek, teater, toesprake – die soort dinge wat by “kunstefeeste” bedryf word – het ‘n mens geen saal of uitgebreide organisasie nodig om ‘n boek te lees nie. Selfs om boeke uit te gee, is so maklik dat feitlik enigiemand dit kan doen. Jy kan selfs jou boek gratis op die internet publiseer. In Europa tref mens natuurlik ‘n hele fynproewery rondom boeke, papier, druk- en bindwerk aan wat veroorsaak dat mense hul neuse optrek vir boeke wat nie mooi en keurig uitgegee is nie. Voorheen was dit in Afrikaans ook so. Van die mooiste boeke in ons taal is in die sestigerjare in die tyd van dr. Verwoerd gepubliseer. Die punt is egter dat jy nie ‘n meestertipograaf of -proefleser hóéf te wees om ‘n boek uit te gee nie. Om ‘n film te maak, kos miljoene rand. Vergeleke daarmee is die koste van ‘n drukoplaag eintlik goedkoop.

‘n Baie klein groepie skrywers en min boeke kan ‘n reuse-invloed uitoefen. Eenkeer het ek die volledige Latynse letterkunde as geskenk ontvang en dis verstommend hoe min dit is; nie eens genoeg om ‘n baie klein boekerak vol te maak nie. Nietemin word sinsnedes uit daardie boeke al tweeduisend jaar in Europa/die Weste aangehaal. Wie het nog nie van die “Rubicon” gehoor nie? Of het nie Cicero se beroemde beskrywing van verraad gelees nie? Dus: die massa kan maar toitoi soos hy wil, maar sy kreet is eintlik verlore terwyl die stille boodskap op papier of selfs op jou skerm vir ewig duur.

Dis sekerlik nie toevallig dat sowel die Bybel as die Koran boeke is nie! In vele opsigte beskik ‘n boek oor ‘n groter vermoë om iemand te bekeer as enige ander medium. Jy kan jou gunstelingvers of -sinsnede oor en oor lees totdat dit by jou insink. Dis ook iets privaats, intiems wat net tussen jou en daardie stem op skrif gebeur.

Boeke het sekerlik al die wêreld verander. Dink maar aan die Franse revolusie. Of die Russiese. Die regte idee op die regte tyd kan soos ‘n veldbrand versprei. Sonder die boekdrukkuns van Gutenberg sou die Protestantse hervorming nooit plaasgevind het nie, want die reproduksie van handskrifte is tydens die Middeleeue streng deur die Katolieke Kerk in kloosters beheer.

Vir my persoonlik is daar iets van ‘n paradoksale en ironiese “huwelik van teenoorgesteldes” tussen boeke en die internet. Die boek as medium is al eeue oud, terwyl die internet baie nuut is. My kinders kan nie glo dat my geslag sonder die internet grootgeword het nie. Beide die boek en die internet is egter draers van nuwe en kritiese denke, terwyl die sogenaamde hoofstroommedia (HSM) slegs tot eenselwigheid en politieke korrektheid in staat is. ‘n Gedagte wat as ‘n aanlynwoernaalinskrywing (is dit nie ‘n mooi, lang Afrikaanse woord nie, terloops?) begin, eindig dalk in meer uitgebreide vorm as ‘n boek op. En danksy die internet, kan ons nou regstreeks aan mekaar boeke verkoop, sonder die tussenkoms van boekwinkels waar daar insgelyks sprake van sensuur en beheer van Grootbroer mag wees…

Op ‘n stadium, eer dit alles deur kultuurmarxisme en politieke gedienstigheid bederf is, was Afrikaans op pad om ‘n groot letterkunde te ontwikkel. Onlangs is ek verstom toe ek lees dat daar in ‘n klein landjie soos Denemarke jaarliks 30 miljoen boeke verkoop word, ses boeke per lid van die Deense bevolking! Stel jou voor dat daar dalk 15 miljoen boeke per jaar in Afrikaans verkoop kan word, ‘n potensiële mark van R3 miljard wat aan duisende van ons mense werk kan verskaf… Romans of essays waarin Afrikaners eenvoudig vertel van hoe hulle dinge sien, of van die soort wêreld waarvan hulle droom “terwyl ons op die barbare wag”. Nee, laasgenoemde is nie ‘n “rassistiese sinsnede” nie; dit verteenwoordig bloot ‘n boektitel van J.M. Coetzee, Waiting for the barbarians, in die oorspronklike Engels. Die boek is heelwat minder werd as die titel.

Iewers in Houellebecq se Onderwerping vertel hy hoedat die Franse volk “al meer na regs” beweeg het terwyl die politieke en media-elite hul eenvoudig nie hieraan gesteur het nie. Dis een van die redes waarom die Franse Sosialistiese Party uiteindelik verkies om ‘n ondemokratiese Moslem-oorname te steun, omdat die elite en die volk van mekaar vervreem geraak het. Is dit nie ook op ‘n effens ander manier deel van ons Afrikaanse dilemma nie? Die sogenaamde “verligtes” – wat helaas niks van die Europese Verligting verstaan het nie – het van gewone Afrikaners vervreem geraak en daarom gemeensaak met die ANC gemaak. Net so het ‘n Supersapskrywer soos André P. Brink toenemend Engelsgesind en polities korrek geraak, met ‘n soort renons of haat in sy eie mense. Tydens die Goue Dekade van Afrikaans, die 1960’s, was die volk Natte en die skrywers feitlik almal Sappe waarvan vele in die omhelsing van Joe Slovo en sy SAKP geëindig het, of hulle dit nou wil weet of nie. Geen letterkunde kan sónder die volk bestaan nie; uit politieke snobisme of afkeer van jou eie mense is geen literatuur te make nie. Dis wat so wonderlik aangaande Frankryk is: die lang Franse brood en die camembertkaas en die boer op sy plasie iewers ver op die platteland waar niemand ‘n woord Engels verstaan nie en die gesofistikeerde skrywer wat in ‘n Paryse kafee sit en filosofeer; dít alles maak deel uit van een groot geheel. (Smuts se holisme?) Die skrywer loof die boer en andersom.

Tans voel ek egter aan dat ons, danksy die internet en Grootbroer (sommige mense praat van “die Katedraal”, met al die eggo’s van ‘n Middeleeuse verlede) wat besig is om beheer te verloor, op die vooraand staan van ‘n grootskaalse opbloei in die Afrikaanse letterkunde.

En watter meer ondermynende slagspreuk is daar nie as “Terug na die volk” nie? Al hierdie sogenaamde “demokrate” vrees die gewone mense en hul menings, wat nie meer skroom om oor hul probleme met misdaad, korrupsie en verval te praat nie. Juis daarom moet Mevrou Letterkunde aanhou om die borstrok van politieke korrektheid te dra en veral van die man of vrou op straat weerhou word. Boeke is net goed genoeg om inflasionêr aangeprys en “bekroon” te word weens hul heilsame sosiopolitieke en veral sosiogeniërende invloed, nie om geléés te word nie.

Met die uitsondering van dele van die twintigste, was letterkunde deur die eeue nog altyd aan die kant van beskawing, verfyndheid, goeie taalgebruik en styl. Sowel Naspers as die ANC wil nie hê dat Afrikaners weer met hierdie soort verfynde, stylvolle Afrikaans moet identifiseer nie. Slegs as ons vloekend platvloers en polities korrek is, is ons aanvaarbaar. Die kultuur en taalgebruik van die Kaapse Vlakte is die nuwe ideaal wat die verengelste heersersklas van Suid-Afrika aan die Afrikaner voorhou. Reeds beskou die onderwysdepartement Kanna hy kô hystoe deur Adam Small as die enigste drama wat daar in Afrikaans geskryf is, in die nastrewenswaardige Engfrikaans.

Behoort ons nie almal saam in opstand teen die omringende barbarisme te kom nie?


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.