Malleus maleficarum herskryf: van heksery tot rassisme

Deur die eeue heen het die mensdom ʼn geneigdheid getoon om onderworpe te wees aan massahisterie. Graag onderskei ons ons van die diereryk deur ons vermoë om logies te redeneer en dit onafhanklik van ander te kan doen. Eufemisties en arrogant eien ons ons die alleenreg op die vermoë om individueel te kan dink op. Individualisme is ons definiërende kenmerk. Tog is die tropmentaliteit nooit ver van ons gemeenskaplike denkwyse nie en word ons maklik daardeur meegesleur.

Hierdie tropmentaliteit kan nie beter verwoord word as die Spaanse Inkwisisie en die Malleus Maleficarum van die Middeleeue nie. Hekse, ketters en ongelowiges (nie-Christene) is meedoënloos gejag, gemartel, verhoor en op brandstapels verbrand. Europese volksoorleweringe is gevul met staaltjies van hekse wat allerlei soorte bose dade pleeg. Selfs die aantyging dat ʼn persoon hom of haar skuldig maak aan heksery was om – op sy minste – ʼn sosiale uitgeworpene te word wat verneder word op elke moontlike wyse by elke moontlike geleentheid. Dít is as die arme drommel gelukkig was. Indien nie, was sy of haar voorland martelmasjinerie en die brandstapel. Die histerie rondom heksery het sover gegaan dat groepe mense vanaf die staanspoor sommer erken het dat hulle hul aan hierdie misdaad skuldig gemaak het in die hoop om vergifnis en die pyniging wat met ondervraging gepaard gegaan het, vry te spring.

Gegewe dat hierdie heksejagte vir drie volle eeue geduur het vanaf die 1400’s tot 1700’s, is daar sekerlik min beter voorbeelde van die histeriese tropmentaliteit in die menslike geskiedenis. Die bekendste van sulke hoogs emosionele heksejagte is sekerlik die Salem-hekseverhore (Massachusetts Februarie 1692 – Mei 1693) waarby ten minste 28 mense tot die dood gevonnis is. Histories kan hierdie verhore teruggevoer word na onopgeloste konflik binne die gemeenskap, swak leierskap en individue wat politieke gewin en materiële munt daaruit geslaan het.

Vandag is ons ingelig en nugter genoeg om te weet dat heksery ʼn bogstorie is. Towerkuns is iets wat verhoogkunstenaars doen om die skare mee te amuseer. Die belaglikheid van die heksejagte kan, vir my, nie beter uitgebeeld word as in die film “Monty Python and the Holy Grail” nie. Hier kan die leser ʼn gepaste gedeelte daarvan sien.

Die Malleus Maleficarum is in 1487 neergepen deur Heinrich Kramer, ʼn Katolieke priester. Dit is vir alle praktiese doeleindes ʼn handleiding oor hoe om op hekse jag te maak, hoe om hekse te identifiseer, hoe om hulle te ondervra, hoe om hulle te martel om bekentenisse te verkry en hoe om hulle uiteindelik die ewigheid in te stuur. Gesante van die Kerk (die Rooms Katolieke Kerk, die Protestante se hervorming het eers vanaf 1517 begin plaasvind ) was ook van die hoogs geleerde individue van hulle tyd. Die vermoë om te lees en te skryf was grootliks beperk tot hierdie gesante – dit sluit die adelstand uit – en weinig van die lyfeienes kon lees en skryf.

Die mensdom verheerlik nog altyd diegene wat oor kennis beskik en ons sien hierdie individue as “verlig” en “progressief” juis omdat hulle die wêreld sien vanuit ʼn oogpunt wat nie aan die lyfeiene beskikbaar is nie, juis omdat hulle oor kennis beskik waaroor die gewone man nie beskik nie. Ons ken aan geleerdes magte toe om te lei en te besluit wat goed en reg vir ons as gemeenskap is. Die strewe na geleerdheid en kennis is een van die mensdom se suiwerste motiewe.

Die heksejagte, die Spaanse, Portugese en Roomse Inkwisisies en die Salem-hekseverhore is almal ontketen deur hierdie “progressiewe en verligte” intellektuele en geleerdes. Deur die gewone man, die lyfeiene, die boer, die bakker, die slagter op te sweep in ʼn massahisterie van waansin om hekse te jag is een van die grootste voorbeelde van die mens se voorliefde vir die tropmentaliteit en ʼn klad op die terme “geleerd” en “intellektueel”. Dit is natuurlik beduidend dat die Rooms Katolieke Kerk se eie verbintenis en gebruike wat spruit uit heidense heksery en afgodaanbidding heeltemal geïgnoreer is en dit het die Protestante se hervorming geneem om dié feit aan die groot klok te hang.

Gelukkig het rede en goeie verstand – asook die Protestante se hervorming en gevolglike evolusie van die Christene se geloof – ʼn einde gebring aan hierdie drakoniese klugspul (en een van die donkerste periodes in die Christendom se geskiedenis) en het die mensdom voortbeweeg na ʼn meer humanitêre samelewing waar logika en rede die kensketsende eienskappe is.

Of het ons? Het ons uit die geskiedenisboeke geleer of is ons nog onderworpe aan dieselfde tropmentaliteit en massahisterie wat tot die Inkwisisies en heksejagte gelei het?

Iemand vertel aan my dat moderne intellektuele se grootste karakterkenmerk is dat hulle vir ure kan sit en filosofeer en debatteer oor die sosiale impak van ʼn hondedrol in die sand. Daar is niks intellektueels of geleerds aan hulle nie; hulle is slegs naïef in hulle nihilisme en verwaandheid. Hubris is die enigste woord wat hulle kan beskryf.

In ons postmodernistiese samelewing het die geleerdes en intellektuele die Malleus Maleficarum slegs herskryf – terwyl groot dele van die Westerse samelewing in ʼn toestand van morele verontwaardiging en massahisterie agterna hardloop. Dieselfde “verligte en progressiewe” mentaliteit is die dryfveer agter hierdie herskrywing.

Vervang die Kerk se dogma met multikulturele dogma. Vervang die aanklag van heksery met die aanklag van “rassisme”. Vervang hekse, ketters en nie-gelowiges met “rassiste”, nie-konformiste en diegene wat tot volkseie ontwikkeling verbind is. Vervang die gesante van die Kerk met ekstreemlinkse akademici, “meningsvormers”, demagoë en joernaliste. Vervang dié wat mense beskuldig het van heksery met geïndoktrineerde skape wat voortdurend aanstoot neem om ander se onthalwe. Vervang die ontkenning van die Kerk se eie heidense wortels met die ontkenning van rasgebaseerde ideologie in RA en SEB wat eie aan hierdie nuwe multikulturele dogma is. Vervang die brandstapel met die konstante aanvalle op die persoon, die ontneming van sy inkomste, waar sy persoonlike lewe geruïneer word, waar hy “verban” word en ʼn etiket van “randeier” moet dra… en binnekort, indien die “progressiewe en verligte” arbiters van reg en verkeerd hulle sin kry, tronkstraf vir die oortreder. Laastens, vervang die bekentenisse van heksery met bekentenisse van rassisme in die vorm van witskuld en patologiese altruïsme.

Nie veel het dan verander nie – ons bevind ons slegs in ʼn meer moderne weergawe van die Middeleeue waar almal kan lees en skryf maar nog steeds so onnosel is soos ons voorsate van die 14e eeu. Vir al die geleerdheid wat ons versamel het, kon ons netsowel vir dae aaneen staar na die wollerige gemors wat in ons naeltjies versamel.

Die verskil is egter dat die Malleus Maleficarum konkrete riglyne gegee het van wat heksery behels en hoe om ʼn heks te identifiseer. Dieselfde kan egter nie van die aanklag van “rassisme” gesê word nie. Dit is ʼn amorfisme, ʼn begrip met geen definisie of kenmerke nie, ʼn “iets” wat op ʼn daaglikse basis verander soos die aanklaers goeddink om hulle skewe wêreldbeeld en narratiewe te pas. Dit is ʼn kruk vir sekeres om te gebruik om hulle konstante mislukkings weg te verduidelik, om onopgeloste geskille en konflik in hulle guns te besleg, om aan te dring op iets wat hulle nie verdien het nie en om politieke munt te slaan – nes met die Salem-hekseverhore 300 jaar gelede.

Soos die aanklag van heksery kan enigiemand aangekla word vir die misdaad van rassisme selfs as jy jou altyd aan die kant van die beskuldigers bevind het. Vra maar vir Zelda la Grange, Max du Preez en Gareth Cliff om ʼn paar voorbeelde te noem waar die krokodil diegene wat hom gepaai deur hom te voer, verslind het.

Sal geskiedenis ons ten goede wees ʼn verdere 300 jaar in die toekoms in of sal hierdie nuwe heksejag, soos dié van die Middeleeue, ʼn klad op die mensdom se naam wees? Gaan toekomstige historici in ʼn terugblik op vandag na ons kyk en dink: “Wat was fout met hulle, het hulle niks geleer nie?”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.