Noord-Koreane ontken bande met wapenbedryf in Namibië

Deel op

Die Namibiese tak van die Noord-Koreaanse staatsmaatskappy Mansudae Overseas Project Group of Companies (M.O.P.) sê hy het géén bande met die omstrede Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID) teen wie streng internasionale sanksies ingestel is nie.

KOMID is Noord-Korea se grootste wapenhandelaar en is by die verspreiding van ballistiese missiele en ander wapentuig aan lande soos Iran en Sirië betrokke. Die maatskappy verskans sy bedrywighede dikwels deur Noord-Koreaanse frontorganisasies te gebruik in die lande waar hy sake doen.

Volgens ’n goedgeplaaste intelligensiebron bestaan ’n verbintenis tussen M.O.P. in Namibië en KOMID.

Mnr. Ryong Choe, woordvoerder van M.O.P Architectural & Technical Services (Namibia), het vandeesweek gesê die maatskappy waarvoor hy werk “doen nét kuns- en konstruksiewerk en het niks met wapens te make nie”.

Volgens hom ken hy nie die twee Noord-Koreaanse amptenare, Kil Jong Hun en Kim Kwang Yon, wat in Namibië woon en KOMID se belange in Suider-Afrika behartig nie.

Hulle is twee van die tien Noord-Koreane teen wie die Amerikaanse tesourie in Januarie sanksies ingestel het.

Dit is gedoen omdat hulle resolusie 1718 van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) oortree het. Dié resolusie is op 14 Oktober 2006 aanvaar nadat Noord-Korea op 9 Oktober 2006 ’n kerntoets uitgevoer het, strydig met die kernsperverdrag waarvan dié land ’n ondertekenaar is.

Ingevolge hierdie resolusie moet lidlande van die VN alle oorsese bates van individue en maatskappe betrokke by Noord-Korea se wapensprogramme bevries. ’n Internasionale reisverbod is ook op werknemers van hierdie programme en hul families geplaas.

Die twee mans se teenwoordigheid in die land het die Namibiese regering in ’n groot diplomatieke verleentheid gedompel. Dit het verlede week bekend geword die VN gaan op grond van dié gebeure ’n amptelike ondersoek gelas na Namibië se skending van resolusie 1718 van die Veiligheidsraad. Namibië is net soos Noord-Korea ’n ondertekenaar van die kernsperverdrag.

Volgens Choe verwerp M.O.P. in Namibië enige beweringe dat hy as frontorganisasie vir KOMID optree.

“Ons is reeds vir dekades wyd bekend in Namibië as een van die groot konstruksiemaatskappy en het ’n goeie naam onder ons kliënte en diensverskaffers. Ons het niks met KOMID te make nie en is nie ’n filaalmaatskappy van KOMID nie.

“Ons moedermaatskappy Mansudae Art Institute ”

Hy sê gerugte hieroor bring mee dat groot diensverskaffers wat reeds jare lank bou- en ander konstruksiemateriaal aan M.O.P. lewer, vra skielik vrae en wil weet wat aangaan.

Choe sê M.O.P. het noue bande met die Namibiese regering wat een van dié maatskappy se grootste en mees gewaardeerde kliënte is.

“Ons het staatshuis, die Heldeakker, die Oorlogsmuseum op Okahandja en die Gedenkmuseum vir Onafhankliheid gebou en was ook by talle ander kleiner konstruksieprojekte betrokke.”

Hy ontken dat M.O.P. enigsins betrokke was by die bou van die wapenfabriek by Luiperdsvallei en sê dit was ’n “ander Noord-Koreaanse maatskappy”, maar hy ken nie die naam daarvan nie.

Volgens die waghondliggaam North Korean Economy Watch, is Namibië die land in Afrika wat die meeste geld, naamlik sowat US$67 miljoen, aan monumente en ander bouwerk deur M.O.P. bestee het.

“Noord-Korea het reeds meer as US$160 miljoen in die laaste tien jaar verdien uit die oprigting van reusemonumente en beeldhouwerke in lande in Afrika. Die grootste deel hiervan was afkomstig uit Namibië”, sê dié liggaam op sy webtuiste.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.