Oproer saai oral chaos

Deel op

‘n Vierde skool is by Khakhanwa in Malamulele in Limpopo aan die brand gesteek omdat hulle klasse voortgesit het.

Ouers het die skool probeer bewaak te midde van die laaste vier weke se oproer in die gebied.

Drie skole in die gebied is vroeër dié week ook aan die brand gesteek.

Dienste en toegang tot die gebied is steeds versper. Oproer in die gebied duur reeds sowat vier weke met Tsongas wat ‘n aparte munisialiteit eis.

Intussen sê die Malamulele-taakspan die Tsongas sal Sondag besluit of hulle protes gaan opskort. ‘n Woordvoerder, Isaac Nukeri, het met die minister van polisie, Nathi Nhleko en die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, gesprek gevoer.

In ‘n ander voorval van openbare geweld, het Jacob Mamabolo, LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Woensdag gesê dit was EFF-lede wat munisipale geboue aan die brand gesteek het tydens oproerigheid in Mohlakeng buite Randfontein.

“Die EFF-lede het op ‘n plundertog gegaan en munisipale eiendomme aan die brand gesteek en alle paaie en ingange na die gebied versper, en die gemeenskap is verhoed om te gaan werk,” het Mamabolo gesê.

Die burgemeester se huis en motor, die biblioteek, munisipale kantore en die stadsaal is van die eiendomme wat in ligte laaie gelaat is.

Volgens Mamabolo het die betogers ook winkels, wat deur buitelanders besit word, geplunder.

Inwoners het Woensdagoggend op ‘n plundertog uitgevaar. Christina Mabala, voorsitter van die EFF se Wes-Rand-tak, het egter gesê ANC-lede het die brande begin.

“Sommige mense binne die ANC het besluit om die geleentheid te gebruik om eiendomme te brand en te plunder. Ons as die EFF distansieer onsself van die gewelddadige optrede en skade aan eiendom,” het sy gesê. Sy het gesê die beskuldigings is vals.

Mabala het gesê die EFF het ‘n optog gereël van Mohlakeng na Randfontein om hul griewe aan die burgemeester te oorhandig.

Volgens Mabala het die polisie met rubberkoeëls op die betogers losgebrand.

In nog ‘n voorval van openbare geweld, het die polisie Woensdag met rubberkoeëls op betogers in Majakaneng, naby Mooinooi in Noordwes, losgebrand.

Brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie, het gesê die oproeriges het dele van die N4 met hekke, klippe, bome en brandende bande versper. Volgens Ngubane het die betogings Maandag begin.

Sewe betogers is in hegtenis geneem en sal aangekla word van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging.

‘n Bus is aan die brand gesteek en twee winkels, wat aan buitelandse behoort, geplunder. Inwoners is glo ongelukkig oor water- en elektrisiteitstoevoer in die area.

Biskop Paul Verryn van die Metodistekerk en ‘n kollega wat probeer het om dialoog te bevorder, is met klippe bestook. Verryn en sy kollega is nie beseer nie.

Hoofpaaie was Woensdag gesluit nadat die oproeriges motoriste tussen Rustenburg en Pretoria met klippe bestook het. Die pad tussen Mooinooi en Brits was ook gesluit.

Die departement van gemeenskapsveiligheid in Noordwes het gesê drie vragmotors en ‘n voertuig is Dinsdagaand aan die brand gesteek.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.