Facebook, sal ek of sal ek nie?

Image11:17:17 Dié Saterdagmiddag het ek en vriend Gustav op Messenger gesit en klets, hy daar op die plaas en ek in die dorp. Tydens die gesprek het ons so ongeveer die wêreld se probleme opgelos in die vinnige uurtjie wat ons in kuberland gekuier het. Die onderwerpe het alles gedek van misdaad tot musiek, soos gewoonlik, en natuurlik ons nuutste ontdekkings op die internet vir die week.

Dis toe net daar wat Facebook se naam opspring en hy die ding se lof besing en my sterk aanbeveel om die ding te probeer. Hoe meer hy vir die saak argumenteer, hoe meer skop ek teen die indringer, met die latere toegewing dat ek sal loer as ons klaar gepraat het. Nou ja, die gesprek was later oor, met iets wat my aandag soek en toe gaan loer ek maar.
Die intrapslag was amper genoeg om my so die harnas in te jaag, met die opstel van die profiel en daardie klein stukkies inligting dat ek baie ampertjies besluit het om dit te los as 'n slegte ondervinding. Maar ek het belowe, dus strompel ek maar voort.
Die eerste teken wat interessant was, is die feit dat ek die ou hoërskoolvriende kon gaan opsoek, dié wat nog lewe en wat wel op Facebook is. Aha, toe, die skoolnaam, die jaar, druk "enter". Dis net daar waar die frustrasies weer begin het. Die name en gesigte is dié van mense wat ek sowat 23 jaar laas gesien het. Die feit dat ek in 23 jaar nie by een reünie was nie maak dit nie makliker om mense te herken nie. Daar was wel so 'n paar gesigte wat ek geken het, maar hulle was maar grootliks in die minderheid.
Dan kom die volgende uitdaging, om 'n uitnodiging aan die mense te rig wat ek wel herken het, en weereens begin ek dink nie in die suiwerste Afrikaans nie, maar in 'n taal wat eerder op die Kaapse vlaktes sou tuishoort. "Wat de hoenders is die letters wat ek moet ontsyfer ?" Hmm, uiteindelik is ek verby stap een, net om weer deur die tegnologie gestuit te word. Ek het op een "vriendemaak" die keuse gemerk om 'n kode op die selfoon te kry, wat ná 'n hele paar dae steeds nie aangekom het nie, en hoe kry mens die versoek nou weer af? Wel, die ding moet maar daar bly. Ek het die vriendin in elk geval lankal opgespoor waar sy nou in Kanada bly, so die een kontak minder op FB maak nie saak nie.
Die hele ding het vir my soos een vrek deurmekaar doolhof begin lyk, en die vooruitsig om met elke kennismaking die stryd deur te voer het my nie werklik aangestaan nie. Na ek die tweede dag opgegaan het, was daar darem een van die mense wat saam met my op 'n gat-sonder-waterplekkie gebly het in ons skooljare en ek het 'n uitnodiging aanvaar wat sy gestuur het. Wel, miskien nie heeltemal gat-sonder-water nie, want die Hartbeespoortdam was teen die gehuggie, wat deesdae seker 'n Gautengse rykmansbuurt is. Wel, ek het nou die wonderlike totaal van een vriend op die wêreldwye Facebook. Iets om oor huis toe te skryf!
Toe kom die kennisgewing dat ek 'n boodskap op my "muur" het. Ok, nou hoe lees ek die pos? Weereens begin die soektog, en wonder bo wonder kry ek darem die ding, eintlik nie so erg moeilik nie, ek moet net lees.
Dankie tog dat ander mense ook soms wonder wat van mens geword het, want van dié punt af het daar 'n paar name op die vriendelys verskyn, en al onthou ek nie almal so heeltemal perfek nie, is daar wel 'n paar breinselle wat begin om mense se gesigte en name te plaas, al vat dit tyd. Dis op dié manier wat een van die vriende saam met wie ek allerhande waaghalsige dinge as kind aangevang het my toe weer opspoor, en onmiddellik was daar sekere dinge wat ons steeds in gemeen gehad het. Hoewel hy ongelukkig nie meer in Suid-Afrika woon nie.
Toe begin die soektog na groepe wat dalk dieselfde belangstelling het waar ek kan inskakel. En weer is dit vorentoe en agtertoe tree om iets te kry wat die moeite werd is. Uiteindelik is daar een wat die oog vang, en ek gaan klik op die aansluitblokkie. Reg, nou kan ek myself darem ook as deel van 'n groep ag, met die regte om dalk iets te kan plaas wat die mense kan lees, dalk daarop reageer.
Haha, ek het die eerste keer iets geplaas op die muur van die een groep, in die hoop dat iemand darem sal reageer, maar dit wil voorkom asof mense lede is net in naam, maar nie in daad nie. Dit lyk asof die lidmaatskap van die groepe net iets is wat mens op jou profiel wil sit, in plaas daarvan dat dit iets moet wees wat mens aktief ondersteun en op die hart dra. Ja, ek weet dat nie almal baie tyd tot hulle beskikking het nie, maar mense, waar is julle lojaliteit aan die groepe waartoe julle julself verbind het? Wat is dit met julle?
Ek het weer gaan kyk op 'n paar van die groepe wat ek gesien het maar nie by wil aansluit nie, aangesien ek niks in gemeen het met die beginsels waarvoor hulle staan nie. Daar is darem enkeles wat maar dun om die lyf is, met geen of baie min substansie in hulle opstelling. By nabetragting het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ons klompie wat vir Praag se webwerf self skryf baie meer doen om mense bewus te maak van wat in die land aangaan as baie van die "groepe" wat op Facebook bestaan (hoewel PRAAG self oor 'n Facebook-groep beskik wat darem besig is om te groei).
Dis wel hartseer dat gebruikers nie hul groepe meer aktief ondersteun nie, want Facebook verteenwoordig 'n kragtige instrument as mens dit net reg aanwend. Dit het die vermoë om mense te kan saamsnoer soos wat min ander media dit kan regkry, as mense net dít wil doen waartoe hulle geroepe voel.
Vandag het ek gaan rondsnuffel op die foto-albumfunksie; dit was nogal pret, want dis daar waar mens allerhande interessante foto's sien van wat wie gedoen het en hoe die mense nou lyk. Dis weereens 'n kragtige stuk gereedskap wat mense kan gebruik, en die toepassings in so wyd: verspreiding van inligting, kennis, noodsaaklike idees wat wyd en syd verkondig moet word. Dis letterlik legio, die maniere waarop dit aangewend kan word. Aan die begin het ek so 'n bietjie gespartel met die saak.
En toe ek so 'n bietjie gaan lees was dit nie te moeilik om my eerste album op te laai nie. Solank mens net lees en die instruksies volg. 'n Vriend van my in die IT-bedryf het my altyd vertel "LDDS", kom ek vertaal dit so, "lees die dekselse skerm", dis so maklik. Wel, dis die teorie; in praktyk werk dit nie altyd so nie, maar mens kom darem redelik ver met die LDDS-metode. Nou hoop ek maar dat die "vriende" wat ek op Facebook het daar sal gaan loer, nadat ek die moeite gedoen het om die foto's te gaan plaas.
Ek het later weer gaan loer op 'n muur van die groep waarvan ek lid is, maar helaas, daar is nog niks nuuts opgesit nadat ek my laaste sê daar gesê het nie. Dis toe mos net daar waar ek so ongeveer my speelgoed uit die hok gooi en 'n boodskap plaas, iets in die volgende trant: "Komaan mense, waar is die aktiewe mense wat in Afrikaans skryf, dig en sing, is die muur net 'n versiering, of wat, gebruik die ding…"
Wel ek het nog niks gesien in reaksie op die boodskap daar nie, maar ek is seker immer die hoopvolle gek, dus ek sal maar aanhou hoop. Ná so 'n paar uur is daar steeds niks geplaas nie. Ek was in dié tyd dorp toe, 'n paar sakies gaan afhandel en het met paar vriende ook gesit en gesels, oor 'n beker koffie.
Wel, die een goeie ding wat ek van Facebook kan sê, is dat dit darem vir mense die geleentheid gee om te kan netwerk, vir wat dit werd is. Dis net dat as die netwerk geen resultate toon nie, dan is dit mos maar 'n mors van tyd, tensy daar met die intrapslag besluit word dat tydmors die groot doel van die saak is.
Dus kan ek nou eerlik sê dat hoewel die Facebook-eksperiment vir my wel met ou vriende in aanraking gebring het, dit nie veel meer bereik het nie, maar ek laat dit maar daar, as goeie ondervinding waarteen ek dit afskryf. Maar ek kan duidelik sin dat dit ook verslawend kan raak, veral vir die persoon wat bloot behoefte aan kontak het en dit nie vir 'n spesifieke doel – soos om 'n bepaalde saak te bevorder – wil gebruik nie.

inexpensive wedding hair

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.