Dalende olieprys maak kos goedkoper

Deel op

Hoof van Agbiz, John Purchase, sê brandstofpryse sal die landboubedryf beslis raak.

Verbruikers gaan beslis kan asem skep wanneer die brandstofpryse om middernag vanaand met ongeveer 93c vir petrol, en meer as R1 vir diesel, daal.

Dit kom nadat die brandstofpryse verlede maand reeds met meer as R1 gedaal het.

In die landbousektor hou die verlaging van die plaaslikke brandstof pryse vir beide boere en verbruikers beter vooruitsigte in, maar die daling in die globale olieprys kan terselfdertyd moeilikheid voorspel vir die in-en-uitvoer markte.

Purchase sê die “groot onbekende” in hierdie stadium is of die aansienlik laer ru-olieprys oor ‘n billikke tydperk volhoubaar is. Hy sê dít sal bepaal of daar vorentoe ‘n invloed op voedselpryse sal wees.

BP het egter Dinsdag aangekondig dat die lae olieprys waarskynlik ‘n hele paar jaar sal voortduur en aangekondig dat hulle aanpassings daarvolgens sal maak en kapitaalbesteding met ongeveer $6 miljard sal inkort.

Associated British Foods het die waarde van sy belegging in Vivergo Fuels verminder as gevolg van dalende ru-olie- en bio-etanolpryse.

Vivergo besit en bedryf een van Europa se grootste bio-etanolaanlegte vir die vervaardiging van plant-afgeleide motorbrandstof.

Globale lae oliepryse beteken goedkoper voedsel vir stedelike verbruikers, alhoewel nie vir die 805 miljoen mense wat nog steeds chroniese honger ervaar nie, volgens die VN se Voedsel-en Landbou-organisasie.

Die prys van olie het verlede jaar gedaal met die helfte, die tweede grootste jaarlikse daling ooit. Oliepryse het ‘n domino-effek op die prys van voedsel, wat in 2014 vir ‘n derde agtereenvolgende jaar gedaal het.

Daar is ‘n hoë korrelasie tussen olie en voedselpryse omdat brandstof vir vervoer van voedsel tussen die veld en die mark gebruik word.

Daar is ook ‘n merkbare invloed op voedselpryse omdat kunsmis, plaagdoders en ander belangrike landbou-insette afgelei is van petroleum.

Energie- en vervoerkoste verteenwoordig ongeveer 8 persent van die prys vir plaaslik vervaardigde voedsel, volgens die Amerikaanse Departement van Landbou.

Aan die aanbodkant, is die energieverwante koste, wat kunsmis, chemikalieë, smeermiddels en brandstof insluit ongeveer 50 persent van die produksiekoste vir gewasse soos mielies en koring in ontwikkelde lande.

Die lae olieprys plaas veral druk op lande soos Libië, Iran, Irak en Nigerië wat groot bevolkings moet dra en alleen op olie staatmaak.

Nigerië is vir 80% van sy uitgawes afhanklik van olie.

ISIS verdien glo sowat $3 miloen per dag deur olie op die swartmark te verkoop onder markpryse, teen ‘n aansienlike afslag van tussen $30 en $60 per vat.

Koue lande soos Kanada verwag ‘n styging in sekere voedselpryse agv duurder invoere van vrugte en groente en ‘n daling in die land se geldeenheid.

Suid-Afrika se wynbedryf is blykbaar gesond en is in vergelyking met ander wynprodusente soos Chili ‘n sterk mededinger in die wêreld ondanks die internasionale ekonomiese afswaai.

RSG berig dat die jongste makro-ekonomiese verslag deur Ekonome van Conningarth vir die Suid-Afrikaanse Wynbedryf- Inligtingsstelsels, of SAWIS, vrygestel is. Die vyfjaar verslag dek die tydperk van 2008 tot 2013.

Die uitvoerende hoof van die organisasie vir wynprodusente en kelderlede, WinPro, Rica Basson, sê die verslag dui daarop dat Suid-Afrika ‘n groot internasionale speler is, ondanks die feit dat die totale wingerdoppervlak in die land effens gekrimp het.

Die wynbedryf het in 2013 R8,5 miljard aan buitelandse valuta verdien en die breë wynbedryf het 1,2% tot die land se bruto binnelandse produk bygedra. Bykans 300 000 mense werk in die wyn- en verwante bedrywe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.