Derby-Lewis wend hom tot De Kock se regsverteenwoordiger

Deel op

Clive Derby-Lewis se vrou, Gaye, het aangekondig dat Julian Knight, wat vroeër die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock verteenwoordig het, voortaan as haar man se regsverteenwoordiger sal optree.

Derby-Lewis het Dinsdag bewerings ontken dat hy sy vorige prokureur Marius Coertze versoek het om die minister van korrektiewe dienste te dagvaar vir R2 miljoen.

“Dit het nooit gebeur nie,” het Derby-Lewis in ‘n verklaring gesê. “Ek het hom nooit opdrag gegee om die minister of enigiemand anders by die departement te dagvaar nie.”

Derby-Lewis het gesê hy het ‘n e-pos aan minister Michael Masutha se woordvoerder gestuur om hom in kennis te stel dat hy nie die opdrag aan sy prokureur gegee het nie, en het om verskoning gevra oor die verkeerde inligting.

Coertze verteenwoordig sedert Sondag nie meer vir Derby-Lewis nie.

Masutha het Vrydag aangekondig dat Derby-Lewis se aansoek om mediese parool afgekeur is. De Kock se aansoek is goedgekeur.

Alhoewel die mediese paroolraad aanbeveel het dat hy vrygelaat moet word, het Masutha ‘n naamkwessie op Derby-Lewis se mediese verslae voorgehou as ‘n verskoning om Derby-Lewis in die tronk te hou.

Derby-Lewis is deur die owerhede self versoek om ‘n skuilnaam op sy mediese verslae te gebruik, iets wat die minister nou probeer uitbuit tot sy voordeel.

Die minister het die paroolraad veroordeel dat die vrylating voorgestel word, aangesien Derby-Lewis slegs fase 3-longkanker het. Volgens wetgewing kwalifiseer glo slegs diegene met fase 4-longkanker.

De Kock ly egter aan geen kwaal nie.

Masutha het ook gesê hy is nie oortuig dat Derby-Lewis ware berou toon nie.

Clive Derby-Lewis is vir die moord veroordeel nadat ‘n regsverteenwoordiger wat sy dienste “gratis” aangebied het, hom aangeraai het om nie oor sy onskuld te getuig nie, ‘n fatale fout.

‘n Filmmaker het vroeër gesê hy is bewus van sekere regslui wat deur die ANC en hul meelopers aangewend word om sake “te gooi” in hul guns en hulself dan as simpatiek voordoen en gratis hul dienste aanbied. Die bekende regisseur wou anoniem bly, maar het aan Praag bevestig dat hy meen dat Derby-Lewis se geval soorteglyk is.

Die sogenaamde getuie, ‘n swart vrou, wat vertel het dat Derby-Lewis die wapen verskaf het, is volgens ander getuies afgedreig aangesien sy nie die oorhandiging sou kon sien plaasvind van waar sy beweer het sy was nie. Getuies wat haar leuens sou kon weerlê, is verhoed om te getuig.

Janusz Walus, ‘n Poolse immigrant, het die leier van die SAKP, Chris Hani, op 10 April 1993 doodgeskiet.

Hy is skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel, maar dit is na lewenslank verander toe Suid-Afrika die doodstraf afgeskaf het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.