Forensiese beamptes sal vandag met ondersoeke by die hoërskool in Malamulele in Limpopo begin nadat ‘n brand Maandagaand ‘n kantoorblok in puin gelê het, het RSG berig.
Die gebied word die afgelope bykans drie weke deur protesoptrede geteister deur Tsongasprekers wat ‘n afsonderlike munisipaliteit eis.
Tsongas kla dat Vendas voorkeur geniet.
Leerders het nog nie sedert die begin van die skooljaar onderrig gehad nie. Inwoners in die gebied sê die skool is deur die polisie met doringdraad afgesper en niemand kon die brand blus nie.
Hulle beweer dat die polisie niks gedoen het om die brand te bestry nie.
Die munisipale afbakeningsraad het Vrydag beslis dat die gebied nie ‘n aparte munisipaliteit van die Thulamela-munisipaliteit kan kry nie.
Die polisie is in die gebied ontplooi.
Intussen het die DA aangedui dat hy die Malamuele-taakspan, wat die protesoptrede reël, by die Menseregtekommissie gaan verkla omdat kinders nie kan skoolgaan nie.