Swapo sal De Kock verwelkom

Eugene de Kock (66) het glo by meer as een geleentheid met “redelike hoë vlak” Swapo-afvaardigings in die Sentrale Gevangenis in Pretoria vergader.

Swapo het aangebied dat De Kock na Namibië terugkeer en homself in die land vestig.

Dr. Piet Croucamp, oud-Namibiër en dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, het aan die Republikein gesê De Kock het nog “’n baie goeie verhouding met sommige lede van Swapo se destydse Plan-soldate”.

Croucamp, wat hom reeds jare lank vir De Kock se vrylating beywer, sê hy het self ook “op ander maniere informele kontak met van dié ouens”.

“Swapo se boodskap tydens hierdie tronkbesoeke was dat hy welkom is in Namibië.”

Die Suid-Afrikaanse Sondagkoerant Sunday Times het gister na aanleiding van die paroolverslag berig “hy is (deur Swapo) ’n stuk grond naby die Okavango aangebied en sal hierdie geleentheid aangryp indien die Suid-Afrikaanse regering nie van hom verwag om binne die grense van Suid-Afrika te woon nie”.

De Kock is Vrydag ná 21 jaar agter tralies op parool vrygelaat. Hy is in Mei 1994 in hegtenis geneem en in Oktober 1996 in die Pretoriase hooggeregshof twee keer lewenslange tronkstraf opgelê en tot ’n bykomende 212 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan 86 misdrywe waaronder ses moorde en bedrog, skuldig bevind is.

Die eens gevreesde De Kock was vanaf 1985 tot 1993 bevelvoerder van die veiligheidspolisie se berugte C10-eenheid op Vlakplaas en het die bynaam “Prime Evil” gehad.

Croucamp het gister gesê De Kock se paroolvoorwaardes is sodanig dat indien hy na Namibië wil reis, hy by korrektiewe dienste in die buurland daarvoor aansoek moet doen.

“Hy sal bitter graag weer Namibië toe wil gaan, maar dit sal nie in die afsienbare toekoms gebeur nie.” Of hy hom permanent hier sal kom vestig, het Croucamp gesê: “De Kock het Donderdag 66 geword. Hy is nie meer jonk nie en is nie finansieel in staat om daar te gaan woon nie. Hy sal in Suid-Afrika ’n stil bestaan buite die openbare oog voer.”

De Kock was in die laat sewentigerjare een van die stigterslede van Koevoet. Voor dit het hy as ’n polisieman op Ruacana diens gedoen. Ofskoon hy in Springs grootgeword het, het sy ouers in daardie stadium in Windhoek gewoon.

Sy pa, mnr. Lourens de Kock, was hooflanddros in Windhoek. Tydens Namibië se eerste demokratiese verkiesing in 1978 het hy (De Kock sr.) die verkiesingreëlings behartig.

Republikein het reeds in 2010 berig oor die moontlikheid dat hy hom ná sy vrylating in Namibië kan vestig.

Me. Pendukeni Ivula-Ithana, wat toe die minister van justisie was, het destyds gesê as hy “regtig ’n nuwe blaadjie omgeslaan het, sal hy as deel van Namibië se verbintenis tot ­versoening met ope arms ontvang word”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.