De Kock gee onderneming om MK te help

Eugene de Kock, beter bekend as “Prime Evil” is uit die tronk en sal binnekort help om grafte van “vermiste slagoffers van apartheid” aan te wys.

Na byna 20 jaar in die tronk, is dit nie bekend waar De Kock homself tans bevind nie. Hy is glo vrygelaat voordat die aankondiging amptelik gemaak is.

De Kock is vrygelaat om die Nasionale Vervolgingsgesag te “help” om oorblyfsels van aktiviste wat tydens die apartheidsera verdwyn het, op te spoor.

De Kock het glo reeds voor sy vrylating aan die NVG ‘n onderneming gegee dat hy inligting aan hulle sal verskaf.

Dit is nie die eerste keer dat De Kock die span bystaan nie.

Vrydag, het die minister van justisie, Michael Masutha gesê een van die redes wat gelei het tot sy besluit om die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder vry te laat, was die hulp wat hy aan die NVG gegee het.

De Kock is al meer as 20 keer onder gewapende wag uit die tronk gelaat sodat hy sy voormalige veiligheidsmagkollegas kon gaan ontmoet om hulle te oortuig om ook te praat.

“Logistiek sal nou makliker wees,” het ‘n lid van die NVG gesê.

Dit was ‘n geheime vergadering twee jaar gelede tussen De Kock en Umkhonto weSizwe (MK) se veterane wat die weg gebaan het vir De Kock se suksesvolle paroolaansoek.

Dr Piet Croucamp het die vergadering moontlik gemaak. Tydens hierdie vergadering het De Kock waardevolle inligting verskaf wat glo gelei het tot MK se besluit.

Croucamp het gesê dat dié vergadering – en baie soortgelykes wat gevolg het – was “absoluut noodsaaklik” in die besluit om De Kock se vrylating.

“Die empatie wat die MK-ouens het vir De Kock bestaan op ‘n onverstaanbare vlak,” het Croucamp gesê.

Die Sunday Independent het intussen berig dat De Kock doodsdreigemente ontvang het en dat hy na ‘n huis vir veilige bewaring geneem is.

Anonieme bronne het aan die koerant gesê die dreigemente is deur “verregse organisasies” gemaak wat glo bang is De Kock gaan mense identifiseer.

Daar was voor 1994 nooit verregse ondersteuners wat deel was van die polisie nie.

Die Sunday Times het berig dat Namibië se Swapo De Kock in die tronk besoek het en aangebied het dat hy in die Okavango gaan bly. Dié aanbod is glo ook genoem in die verslag wat ingedien is vir sy paroolaansoek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.