Namibië se skending van Resolusie 1718 van die Veiligheidsraad sal aanstons amptelik deur die VN ondersoek word, het die Republikien berig.
Agt deskundiges is in 2009 ingevolge resolusie 1874 aangestel met die mandaat om alle sanksies wat die VN teen Noord-Korea ingestel het, te monitor en inligting van lande wat in gebreke bly om aan die vereistes van die sanksies te voldoen, in te samel en te ontleed.
Die ondersoek kom ná ‘n berig wat op 8 Januarie in die Republikein verskyn het oor Namibië se bande met die Noord-Koreaanse maatskappy Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID), wat onder die alias Mansudae Overseas Project Group of Companies (M.O.P.) in die land sake doen.
Republikein het betroubaar berig dat ’n amptelike brief waarin die ministerie van buitelandse sake gevra sal word om te verduidelik en oop kaarte met die VN ondersoekspan te speel, eersdaags gestuur sal word.
Vanweë die internasionale sanksies teen KOMID registreer die onderneming telkens ’n nuwe alias waaronder sake gedoen word. In Namibië het die maatskappy onder die naam van sy alias, Mansudae Overseas Project Group of Companies, onder meer die heldeakker, die nuwe Staatshuis (2008) en die Gedenkmuseum vir Onafhanklikwording (2011) gebou.
Wat nog meer kommerwekkend is, is dat die einste maatskappy nou besig is om ’n fabriek vir die vervaardiging van ammunisie by Luiperdsvallei op te rig.
Ingevolge die resolusie moet lidlande van die VN alle oorsese bates van individue en maatskappye betrokke by Noord-Korea se wapenprogramme vries. ’n Internasionale reisverbod is ook op werknemers van hierdie programme en hul families ingestel.
KOMID is een van die maatskappy wat in die bylaag tot resolusie 1718 by die naam genoem word.
“Dit word van alle lidlande van die VN verwag om die maatreëls wat hulle instel om te voldoen aan die bepalinge van die resolusie, binne 30 dae aan die Veiligheidsraad te rapporteer,” lui die resolusie.
Uit regeringskringe is nie vóór of nadat die berig geplaas is, ’n enkele woord gerep nie. Verskeie navrae na die skakelafdeling van die ministerie van buitelandse sake vir die regering om sy kant van die saak te stel en enige moontlike verduideliking te verstrek, het geen vrugte afgewerp nie.