Boer vas omdat hy waarskuwingskoot skiet

Deel op

‘n Boer van Ficksburg is deur 20 swaargewapende polisiebeamptes in hegtenis geneem omdat hy waarskuwingskoot geskiet het toe twee swartes na bewering sy huis aangeval en gedreig het om sy gesin dood te maak, het Beeld berig.

Die mans het glo ook sy 18-jarige verstandelik gestremde dogter rondgeruk en op die grond neergegooi.

Prieur du Plessis (46), ‘n pa van twee verstandelik gestremde kinders, het Maandagmiddag ‘n waarskuwingskoot geskiet toe twee swartes, gewapen met ‘n knopkierie en kapmes, op hom afgestorm het.

Hy is later die dag in hegtenis geneem toe die swartes ‘n klag van poging tot moord teen hom ingedien het.

Du Plessis se prokureur, Jonker Botha, het reeds Dinsdagaand borgtog by die Ficksburg-polisiekantoor gereël, maar die polisie wou hom nie laat gaan nie.

Hy is eers die volgende dag op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy op mindere aanklagte van die nalatige en roekelose gedrag verskyn het.

Botha het Woensdag gesê sy kliënt sal ‘n siviele eis teen die polisie in te stel weens onregmatige aanhouding.

Die twee swartes het Maandag sy huis se vensters stukkend geslaan en aanhoudend gedreig dat hulle sy kinders en familie gaan doodmaak omdat hy hulle glo geld skuld.

Die waarskuwingskoot wat die boer afgevuur het, het die agterruit van die swartes se motor getref. Sowat 20 polisielede het hom ‘n uur later in die dorp in hegtenis geneem.

Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, sê Du Plessis kon nie Dinsdag op borgtog vrygelaat word nie, omdat die ondersoekbeampte steeds besig was met die ondersoek.

Hy het bevestig dat Du Plessis klagte van intimidasie, aanranding en opsetlike saakbeskadiging teen die twee mans ingedien het en sê hulle is Woensdag in hegtenis geneem. Die mans, onderskeidelik 50 en 30 jaar oud, is dieselfde dag op waarskuwing vrygelaat en moet weer Donderdag in die hof verskyn.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die NVG in die Vrystaat, sê die klag van poging tot moord teen Du Plessis is verander nadat die aanklaer die dossier gelees en besluit het “dit sou moeilik wees om te bewys”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.