Veteraanmotorskou aanstons in George

Deel op

Veteraan en klassieke motors wat vanuit alle uithoeke van die land kom, gaan kliphard meeding om die kalklig by die George Oumotorskou op 14 en 15 Februarie by PW Botha Kollege te steel.

Verlede jaar het 11 000 entoesiaste vanoor die streek deur die hekke gestroom om deel te hê aan die skouspel, maar die verwagting is dat daar vanjaar heelwat meer besoekers gaan wees. Die organiseerders beplan om vanjaar ‘n groter verskeidenheid vermaak en syvertonings aan te bied om in almal se smaak te pas. So sal die kinders en dames ook heelwat meer hê om hulle mee besig te hou terwyl die mans die voertuie bewonder.

Volgens die voorsitter van die George Oumotorklub, Karen van der Merwe, word voertuie wat voor 1975 vervaardig is, as ou motors beskou en maak die skou spesifiek vir hierdie voertuie voorsiening.

Daar sal egter ook heelwat jonger modelle wees wat deur motorhandelaars en klubs uitgestal word.
Soos verlede jaar sal daar ook duisende mo-delmotortjies uitgestal word en te koop wees. Die veiling van veteraan en klassieke voertuie sal op die Saterdag ook weer ‘n trekpleister soos in die verlede wees.

Dan is daar ook heelwat trekkers en landbou-implemente wat ten toon gestel sal word.

Onder die vermaak tel ‘n snuffelmark, speelpark vir kinders, eetplakke en biertuine asook verskeie ander aantreklikhede.

Die skou, wat vanjaar 19 jaar oud is, skenk ook jaarliks etlike duisende rande aan liefdadigheidsorganisasies wat op ‘n meriete-basis geidentifiseer word.

Volgens Van der Merwe is een van hul grootste uitdagings die sekuriteit tydens die skou, veral snags. Stropers en vandale het al vir groot skade tydens skoue gesorg wanneer onderdele gesteel of gebreek word.

Dit is juis hierdie realiteit wat Kobus Halliday, een van die grootste versamelaars van ou motors wat naby Groot-Brakrivier woon, laat besluit het om nie sy voertuie te skou nie.

Tydens die bekendstelling van die Oumotorskou by sy perseel het hy vertel van skades wat hy al in die verlede gely het. Sy permanente uitstalling is egter oop vir belangstellendes wat dit op afspraak wil besigtig. Hy verwelkom ook groepe.

Halliday het in 1980 sy eerste motor, ‘n 1932 Chev, gerestoureer en vandag besit hy 103 veteraan- en klassieke motors, 22 trekkers en verskeie ou motorfietse.

Hy glo dat die motors die beste belegging is wat hy kan maak.

Bron: George Herald

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.