Twee vermeende rowers is Dinsdag in Randburg, Johannesburg deur die polisie geskiet.
“Een is in sy arm en been beseer en die ander een in sy boud,” het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die vier, tussen 27 en 33 jaar oud, het in Bram Fischerrylaan gery toe die polisie opgemerk het dat hul motor ‘n spoorsein gee.
Die polisie het die boewe agternagesit, maar hulle het weggejaag. “Daar was ʼn hoëspoedjaagtog in Bram Fischerrylaan totdat die verdagtes uiteindelik by Randburg Square-winkelsentrum tot stilstand gekom het.”
Een van verdagtes het dadelik op die polisie begin skiet toe hy uitklim en die polisie het teruggeskiet. Twee van die verdagtes is gewond. Die ander twee is in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens.
Die motor is Woensdag in Olifantsfontein as gesteel aangemeld.