PUK: Huiskomiteelede van Hombré-manskoshuis ‘van hul pligte onthef’

Deel op

Sewe huiskomiteelede van Hombré-manskoshuis is voorlopig van pligte onthef, berig die NWU-PUKKE se Facebookblad. Voortspruitend uit die ondersoek wat van stapel gestuur is ná die insident waartydens eerstejaarstudente van die Hombré Manskoshuis na bewering betrokke was in ʼn onderonsie met ʼn senior personeellid, is sewe lede van die huiskomitee laat gistermiddag voorlopig van hul pligte onthef, en moes hulle die betrokke koshuis ontruim. Die primarius van die koshuis is nie een van die bogenoemde sewe HK-lede nie, en twee ander HK-lede (o.a. die onderprimarius) het self besluit om te bedank.

Alternatiewe verblyfreëlings op die universiteit se onkoste is vir dié studente getref.

Die rede vir dié stappe is om seker te maak dat die ondersoek behoorlik gedoen kan word en om enige moontlike intimidasie vanuit welke oord of inmenging met die ondersoek te voorkom. Die integriteit van die ondersoek moet ten alle koste beskerm word, en studente wat nié by die beweerde insident betrokke was nie, moet geïdentifiseer en beskerm word. Die ondersoek na beweerde wangedrag deur eerstejaarstudente gaan ook steeds voort.
Reëlings sal getref word om ʼn tussentydse leierskapstruktuur in die koshuis te vestig.

Die insident het op 21 Januarie teen ongeveer 07:30 voor die Institusionele Kantoor plaasgevind toe die 53 jaar oue personeellid probeer het om tussen die groep studente deur te beweeg. Hulle het na bewering probeer keer dat hy tussen hulle deurloop, en in die proses het hy ʼn rugbesering opgedoen. Lede van die huiskomitee was teenwoordig ten tyde van die voorval.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.