Drie polisiebeamptes en ‘n eertydse wildbewaarder sal na verwagting Dinsdag in die Nelspruit-streekshof verskyn in verband met renosterstropery.
Die beskuldigdes het in November in die hof verskyn maar die saak is uitgestel weens ‘n vertraging met die dossiere van die beskuldigdes wat in Mei in hegtenis geneem is na ‘n gesamentlike operasie deur die Valke en SANPark.
Die vier staan tereg op aanklagte van sameswering om renosters te jag en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Lt.genl. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder van die polisie, het destyds gesê parkbeamptes het ʼn wenk ontvang waarna hulle ʼn gemerkte Skukuza-polisiebakkie van die pad af getrek het. Daar is op ʼn .375-jaggeweer, ʼn knaldemper, ammunisie en toerusting vir stropery beslag gelê.