’n Verslag wat deur internasionale kenners saamgestel is, waarsku dat Namibië ’n ernstige kragkrisis in die gesig staar vanweë die plaaslike afgeleefde hidroëlektriese kragaanleg, asook die land se steun op Suid-Afrika, het die Republikein berig.
NamPower se beplande Kudu- en Arandis-kragsentrale, asook kleiner beleggings in hidroëlektriese- en sonkragontwikkeling sal eers in die lang termyn vrugte afwerp. Tot dan sal kragverbruik in Namibië die aanbod van elektrisiteit ver oorskry en sal kragonderbrekings en beurtkrag by tye aan die orde van die dag wees, sê Business Monitor International (BMI), deel van die Fitch-groep, in sy verslag, “Namibia Power Report”.
MI meen voorts “ernstige tekortkominge in die struktuur van die mark” sal nuwe beleggings in veral hernubare energie bemoeilik. Daar heers ’n tekort aan ’n “robuuste regulatoriese raamwerk” in Namibië se energiemark en dit word boonop oorheers deur ’n “ondoeltreffende voorsiener in staatsbeheer wat private mededinging uitsluit”, aldus BMI.
Dié ontleders verwag dat Namibië se kragopwekking binne tien jaar met 500% sal styg, hoofsaaklik aangedryf deur termiese- en gasaangedrewe kragsentrale-ontwikkelings. Teen 2023 behoort die land 12,4 terawatt-uur (TWh) te bereik.
Volgens BMI behoort Namibië se kragverbruik teen dié jaar 6,6 TWh te beloop, wat beduidende uitvoere van elektrisiteit moontlik sal maak.
“Transmissie- en verspreidingsverliese in 2015 sal hoog wees – 24,9% van uitset – weens diefstal en die swak toestand van die kragnetwerk. Persentasiegewys behoort dit egter oor die tienjaar vooruitskattingstydperk stelselmatig te verminder,” sê BMI.
Namibië behoort binne die volgende vier tot vyf jaar geen ernstige kragonderbrekings te ervaar nie, het NamPower verlede week in ’n verklaring verseker.
Dié onderneming in staatsbeheer het voldoende maatreëls deur middel van sy kort termyn kritieke kragvoorsieningsinisiatiewe getref om as teenvoeter teen enige moontlike tekorte te dien, het NamPower gesê.
NamPower se planne om voldoende elektrisiteit in die afsienbare toekoms te voorsien, sluit in die bestuur van kragvraag, die opknapping van die Van Eck- en Ruacana-kragsentrale, asook die ontwikkeling van ’n kragaanleg van 250 MW. Laasgenoemde gaan in samewerking met die private sektor aangepak word om in kragbehoeftes te voorsien totdat Kudu ontwikkel is.
In die medium tot lang termyn beplan NamPower die ontwikkeling van die Baynes-waterkragaanleg.
Intussen het Eskom in ‘n verklaring gewaarsku dat die vraag na krag in spitstyd sal tot Vrydag hoër wees as die kragvermoë wat beskikbaar is. Dit sal waarskynlik nog kragonderbrekings tot gevolg hê.
Die Suid-Afrikaanse verskaffer het Maandag tweeduisend Megawatt aan die netwerk onttrek in ‘n poging om te keer dat die vraag sy vermoë oorskry, na tegniese probleme by van die kragstasies.