Dit is jammer dat die organiseerders van die KKNK so graag politiek korrek wil wees. Hulle het een laaste sin te veel oor hul standpunt t o v Steve Hofmeyer kwytgeraak en daardeur hulle eie sensuur op een van Suid-Afrika se beroemdste Afrikaanse sangers en kunstenaars geplaas.
Die KKNK beweer hulle is trots Afrikaans en wil brûe bou. Met wie wil hulle brûe bou, met diegene wat Afrikaans en Afrikaanse kunstenaars nie goedgesind is nie? Die probleem is dat die KKNK nie verstaan wat Steve eintlik met sy uitsprake bedoel nie.
My vraag is of die KKNK-organiseerders o.a. ook vir Charmaine van Sewende Laan en die agbare Jacob Zuma oor dieselfde kam sal skeer en vir hulle sal sê hulle is nie welkom by die KKNK se aktiwiteite nie. Almal wat tot dusver met Steve swaarde gekruis het, het tweede gekom. Selfs groepe in Media 24. Steve is ‘n ikoon op sy eie met duisende aanhangers wat die KKNK se standpunt met minagting verwerp. Die elektroniese media bevestig dit onomwonde.
Hierdie vyandige houding teen so ‘n gewilde sanger wat nie skroom om Afrikaanse belange teen ‘n diskriminerende meerderheid te verdedig nie, kan dalk die KKNK vinniger na sy einde bring. Volgens koerantberigte verskil selfs die oorspronklike stigter van die KKNK met die huidige organiseerders se standpunt. – Bart & Marie Vosloo