Ka-ka-ka, sensuur is terug! (En wat u kan doen om te help)

Deel op

Geagte leser,

Die nuus dat Steve Hofmeyr nie meer toegelaat gaan word om by die Klein-Karookunstefees op Oudtshoorn op te tree nie, verteenwoordig ‘n nuwe vorm van sensuur wat ingestel word. Steve is ook skrywer, daarom mag hy ook nie meer daar oor sy boeke praat nie.

praag-embleemnuutDie bietjie spraakvryheid waaroor ons nog in die land beskik, word oral ingeperk en die hoofstroommedia (HSM) speel saam om net een gesaniteerde, polities korrekte boodskap in die media en die kunste toe te laat.

Waar laat dit ons? Geweldsmisdaad en korrupsie gaan nie verminder nie, maar ons sal al hoe minder daarvan lees of hoor. Die enigste boeke wat toegelaat gaan word, gaan boeke wees waarin die ANC-ideaal van ‘n ras- en taalgemengde reënboognasie vir die land gevier word, met karakters wat óf Engels of ‘n gemengde Afrikaans praat en waarin enige verwysings na Afrikaners, ons geskiedenis en erfenis, asook diskriminasie of geweld teen minderheidsgroepe, taboe sal wees. Dan praat ‘n mens nie eens van die onderstroom van perverse, sadistiese marteling, verkragting en gruweldade wat die land teister en wat deur geen akademici, skrywers of denkers ondersoek word nie! Dis eenvoudig ongehoord dat sulke dinge mag bestaan, maar niemand mag daaroor praat nie.

As ons dít alles net aanvaar, weet ons hoe die einde lyk: soos Zimbabwe waar ‘n radikaal Afrosentriese regering hom met brute mag en propaganda handhaaf en niemand enige kritiek durf uitspreek nie. Verder terug in die twintigste eeu het dieselfde toestande in kommunistiese lande geheers en is tienmiljoene mense stil-stil doodgemaak sonder dat ‘n haan daaroor gekraai het. In sommige gevalle is massagrafte eers dekades later oopgegrawe om die waarheid te ontbloot.

PRAAG is die enigste Afrikaanse organisasie wat hom aktief teen hierdie “gefabriseerde instemming” (Chomsky) verset. Ons val nie ander Afrikaanse organisasies aan en probeer hulle verkleineer of stigmatiseer soos wat ons vyande gereeld met ons doen nie. Ons webwerf praag.co.za is ‘n eiland van spraakvryheid in ‘n toenemend totalitêre Suid-Afrika. Daarvoor gaan ons binnekort deur marxistiese prokureurs voor die Gelykheidshof aangekla word, in ‘n poging om ons stil te maak.

Vanjaar gaan PRAAG ten minste tien nuwe boektitels publiseer, waaronder vertalings uit Europese tale. Vir ons is dit geen luukse nie; dis suurstof om in dié verstikkende, “Engels-Engels-alles-Engelse” en polities korrekte samelewing te kan oorleef. Daarmee saam nuwe inheemse Afrikaanse romans, sowel literêr as populêr.

Maar sonder bydraes en ondersteuning van ons lesers en webwerfbesoekers kan ons nie hierdie belangrike werk voortsit nie.

Moenie dat die trotse Afrikaanse stem wat al sedert Jan van Riebeeck se tyd in ons land weerklink, in die doofpot gesteek word nie.

Sluit asseblief by PRAAG aan deur dié vorm in te vul of kontak ons sommer dadelik by inlig[by]praag.org.

Dan Roodt

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.