‘Grysgebiede’

Deel op

Van ‘n geëerde hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch verneem ons onlangs dat bepaalde feite soos rassediskriminasie teen blankes in Suid-Afrika teen die agtergrond van die geskiedenis “herinterpreteer” of gerelativiseer moet word. Waarom lê hy nie die moed aan die dag om te sê rassediskriminasie is verkeerd ongeag van wie dit toepas nie? Die verkeerdheid daarvan word net nog erger wanneer dit huigelagtig met die dekmantel van “nie-rassigheid” beklee word.

En ‘n fatsoenlike rubriekskrywer van Die Burger spreek die mening uit dat die waarheid iewers in die ”grysgebied“ tussen waar en onwaar geleë is. Dit is sekerlik moeilik om altyd ‘n klinkklaar beslissing te maak tussen goed en sleg, waar of nie waar nie, maar “grysgebied” lyk alte veel na die kenmerkende eienskap van ons moderne samelewing: Grys, kleurloos, Godloos, beginselloos, ruggraatloos, futloos en oortuigingsloos. Dof en vaal. Dit lyk asof ons wêreld alle houdings en waardes net in een obsessionele beheptheid saamgepers het, naamlik “ras”.

Nou kom ons praat nou juis oor rassisme, oor huigelagtigheid, oor relativisering van die waarheid en oor grysgebiede.

Op die netwerf van die Department of Justice and Constitutional Development word aangehaal uit die Suid-Afrikaanse grondwet wat in wese sê dat enige onbillike diskriminasie op grond van ras, geloof geslag of seksuele oriëntasie ens., ens., ens. ongeoorloof is. In die volgende sin kwalifiseer hulle dit egter deur te beweer dat diskriminasie nie onbillik is as dit “onregverdighede van die verlede” aanspreek nie. Nou toe nou. Mens sou sê die professor van Stellenbosch het die teks vir hulle geskryf.

Dit beteken dus doodeenvoudig hulle kan diskrimineer wanneer dit hulle pas, want bykans enigiets kan gesien word as ‘n ”regstelling” van die een of ander “onbillikheid” uit die verlede. M.a.w. die verbod op diskriminasie is nie ‘n rotsvaste reël nie, maar net nog ‘n politieke instrument wat op arbitrêre wyse uitgepluk en toegepas kan word om die regime se belange te dien. Die verbod op diskriminasie is die hoeksteenbeginsel van die nuwe grondwet, maar dit word gewoon in die snippermandjie gegooi wanneer dit moontlik mag indruis teen die regime se belange. Dit gee ‘n duidelike indruk van hoeveel beskerming ons as blankes en Afrikaners van die grysgebiedgrondwet kan verwag.

Een van die hoofoogmerke van die reg is om aan die landsburger sekerheid te gee van waar hy staan, van wat sy regte en verpligtinge is, wat hy mag en nie mag doen nie, en wat die gevolge van sy doen of late is. Maar hier het ons ‘n totale dryfsandsituasie.

Die landsburger: “Mag teen my gediskrimineer word?”

Die staat: “Allermins. Nou-ja tog wel, afhangende van omstandighede.”

Die burger: “Wat is dié omstandighede?”

Die staat: “Dit kan ons ongelukkig nie sê nie. Daar kan baie omstandighede wees. Basies enigiets wat in ons kraam pas.”

Hierdie soort absurditeit het met die reg niks te make nie.

Ten spyte daarvan dat hoog opgegee word oor die verhewe aard van die grondwet, dat dit as’t ware uit die hemel geval het, is die grondwet ten slotte die maaksel van ANC-politici wat die dokument geskep het om legitimiteit te verleen aan hulle maneuvers om hulle magsposisie te versterk en voorregte vir hulle en hulle ondersteuners te skep en natuurlik te gryp waar hulle kan.

Miskien moet die hoogggeleerde Stellenbosse professor ons presies voorlig oor hoe ons dit alles moet “interpreteer”. Soos dit wil voorkom, is die diskriminasie teen ons veroorsaak deur diskriminasie wat ons iewers in die verlede teen swartes gepleeg het. Dit lyk dus asof die arme swartes nou geen keuse het nie as om ook teen ons te diskrimineer. En omdat hulle geen keuse het nie, is hulle ook nie verantwoordelik vir diskriminasie teen wittes nie. Dis eintlik die wittes wat verantwoordelik is vir die diskriminasie teen hulleself! Maar dis natuurlik niks nuuts nie, want swartes is mos nooit vir enigiets verantwoordelik nie. Hulle diskrimineer teen ons want hulle kan nie anders nie. Is dit korrek herinterpreteer, professor?

Ons neem as voorbeeld die herhaaldelike gevalle van briljante jong witmense wat toelating tot mediese fakulteite geweier word ten gunste van 40%-gemiddelde-swart-kandidate. Hierdie vorm van skandelike diskriminasie is natuurlik moontlik en wettig omdat dit ‘n geval is waar diskriminasie nie onbillik is nie omdat dit “onreverdighede” van die verlede regstel. Let wel , dis “regverdig” dat ‘n kandidaat met ‘n gemiddeld van 40% in matriek, voorkeur moet kry bo ‘n kandidaat met 95%. Maar die vraag is wattter onregverdighede het hierdie jong witmense teen swartes gepleeg wat nou ten koste van hulle reggestel moet word? Hulle was ten tye van die afskaffing van apartheid nog nie gebore nie. Miskien behoort hierdie jongmense tot die “grysgebied” tussen die “ou” en die “nuwe” Suid-Afrika. Ongelukkig net dat die “nuwe” Suid-Afrika nooit werklik gaan aanbreek nie.

Ons as blankes en as Afrikaners kan natuurlik hierdie situasie waaraan ons onderwerp word gelate aanvaar. Inderdaad doen baie dit reeds. Of ons kan elke geleentheid aangryp om, elkeen op sy eie manier, hierdie naakte rassisme en diskriminasie teen ons aan die groot klok te hang. Mense moet eenvoudig nie toelaat dat hulle deur ANC-oëverblindery benadeel word nie. Die howe moet gebruik word om ons regte af te dwing. Alles moet in die stryd gewerp word om bogenoemde gedrogtelikhede in die grondwet aan die kaak te stel. Indien nodig moet ons ons tot internasionale howe wend en in elk geval moet ons alles in ons vermoë doen om hierdie groteske skending van ons menseregte internasionaal bloot te stel.

En nou ‘n laaste gedagte waaroor ‘n mens nogal katvoet moet wees, want daar is baie sensitiewe tone in die pad. Dit is dat as ons enigsins hond haaraf wil maak, sal alle bewegings, partye, instansies wat ook al, wat min of meer dieselfde pro-Afrikaanse doelwitte en ideale het, hulle kragte moet saamsnoer ten einde ons saak te bevorder. Maar nou verkies ons mos om mekaar uit te kryt vir allerlei dinge en oor en weer vlieë af te vang, dikwels in ‘n poging om darem tog in die mode te wees. Iewers sal iemand bereid moet wees om ter wille van ‘n groter saak die minste te wees, maar dit is tog sooo swaar. Met “jy in jou klein hoekie en ek in myn” kom ons nêrens, maar net nêrens.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.