saturnusfees

saturnusfees

kom skink nou nog ‘n dop in ons dopperland
waar elkeen met ‘n teleskoop toegerus
die sterre en planete beskou in die wete gesus:
lê die hemelse orde nie voor die hand?

dog op aarde op die romeinse vakansiedag
as elke jan rap die winkels bestorm en fuif
en politici en sakemanne na geld snuif
soos kokaïen vanaf ‘n spieël onder gelag

weet ons wie voortaan gaan regeer
ons slawe bevry van onderdanigheid
wat ons te midde van grimmige vrolikheid
moet bedien, elke swygsame dame en heer

wat bo was is onder asook andersom
eens was hy geleerd ‘n gesiene man
nou eet hy slegs dan en wan
so kom ons om so kom ons om

soos destyds die god van ‘n enkel seisoen
gedurende die res van die jaar
grootliks en genadiglik onsigbaar
wink saturnus se ring op afstand van miljoen

die gasreus se weerkaatsde lig flonker
soos ‘n groot ster ‘n vae herinnering
aan ons vergane beskawing
met rondom ons gesigte woedend donker

soos dié van carthago se hammon-baäl
die grusame god wat nie huiwer
om babakrete in die vlamme te versluier
met musiek as hy sy eersgeborenes kom haal

die afrikasaturnus verstaan ons nou beter
sy behoefte aan menslike offerande
terwyl verbale vernis allerhande
slagspreuke walm wat verstar in die eter

eensklaps het hy jou en my beet
ons asems stol tot dié kreet

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.