Ek is wél Jan van Riebeeck

Deel op

Net toe ‘n mens dink dat die herrie rondom Jacob Zuma se kritiek op Jan van Riebeeck nou gaan lê het, vlam dit weer op. Ook het twee van die mees onnosele skepsels wat in die Naarperskoerante propaganda voer, hul gister en vandag oor Onse Jan uitgelaat. Ek praat nou van die skryfster manqué, Sonja Loots, en die Aartskruiperkaner, Adderjan Basson, soos hy in die volksmond bekendstaan.

danr2Sowel Loots as Basson is eintlik Boerehaters wat in Britse en Amerikaanse kolonialisme ons aardbol se redding sien. Nooit het ek enigeen van hulle nog ‘n woord van kritiek teen die VSA of Verenigde Koninkryk hoor uitspreek nie en dis verbasend dat hulle voortgaan om hul af en toe in Afrikaans uit te druk. Ek vermoed dis bloot omdat hulle deur hul dienskontrakte daartoe verplig word om soms ons taal te skryf, want Adderjan twiet deurgaans Engels terwyl Sonja eerder na die nat eiland noord van die Europese Vasteland verlang waar sy eens ‘n paar jaar gewoon het en tot ‘n byna ongeëwenaarde graad van anglofilie en gepaardgaande Boerehaat bekeer is.

Terwyl ons twee jingoïstiese Kruiperkaners of aspirant-Britte die huidige Anglo-Amerikaanse bomme op burgerlikes in die Midde-Ooste of Noord-Afrika sonder meer goedkeur, die miljoen sterftes in Irak, asook die Britse konsentrasiekampe van ‘n eeu gelede, praat hulle met minagting van Jan van Riebeeck, ons vader des volks. Adderjan Basson skryf:

“…Soos Van Riebeeck. Of apartheid. Kom ons kry ’n paar dinge dadelik uit die weg: kolonialisme in Suid-Afrika, net soos in die res van die wêreld, was ’n mensonterende skandvlek op ons geskiedenis.

Van Riebeeck en die Duitsers en Franse en Britte wat saam met hom hier kom plunder het, het die land oneindige skade aangedoen. Die Khoi- en San-gemeenskap – die ware éérste Suid-Afrikaners – is omtrent heeltemal uitgewis; slawerny het gedy en ons minerale is gestroop en na Europa gestuur.
En nee, dis nie waar dat géén ontwikkeling hier sou plaasvind sonder die aankoms van die wit man (en vrou) nie. Daai is apartheidsgeskiedenis en -retoriek.

Gaan lees maar ’n bietjie oor die koninkryk van Mapungubwe as jy nog glo dis net wit mense wat myne en brûe kon bou.”

Adderjan is nie in staat om te dink nie en nog minder weet hy iets van ons geskiedenis af. Van die Europese geskiedenis weet hy nóg minder; ek vermoed hy lees nie eens Nederlands nie, wat tog vir elke Afrikaner toeganklik is. Nee, Adderjan is ‘n verloopte “Afrikaanse” wat sy heil in Engels en soos die Engelse hoernaliste in ons land sy heil in Britse marxisme gevind het. In die laaste reëls van sy rubriek neem sy gebreinspoelde witskuld so toe dat hy hom vergeefs op sy gekleurde voorsate beroep of ten minste die versugting uitspreek dat hy oor “gekleurde bloed” beskik. My vraag aan Adderjan is: waarom gaan hy nie dan vir ‘n DNS-toets en publiseer die uitslag op Beeld se voorblad nie? Miskien is Adderjan waarlikwaar ‘n kleurling, waarvoor hy hoop, en nie net wat ‘n “slegte witmens” genoem word nie. Dít sommer net terloops, want Adderjan se rasse-identiteit of -versugtinge is kwalik meer as enkele sinne werd.

Sowel Adderjan as Sonjatjie spreek hul teen historiese Westerse kolonialisme uit, maar het geen beswaar teen huidige Amerikaanse en Chinese kolonialisme nie. Benewens die stereotipes oor Europese kolonialisme, was daar egter duisende goeie Europeërs in Afrika en Suid-Afrika wat die inboorlingbevolking bekendgestel het aan skrif, mediese behandeling, die Christelike geloof, Romeins-Hollandse reg en die beginsels van regverdigheid wat swartes vandag aanwend om blankes moreel aan te kla. Hermann Giliomee skryf in Die Afrikaners – ‘n biografie:

“Nederland, eerder as Duitsland of Frankryk, het die aard van die Kaapse nedersetting die meeste beïnvloed. In die Europa van die sewentiende eeu het die Nederlanders die meeste individuele mobiliteit en die grootste gelykheid voor die reg geniet. In die provinsie Holland, waar die Romeins-Hollandse reg gegeld het, is geen spesiale voorregte aan die adel toegeken nie. In die woorde van die groot juris Voet het dit ‘gelykheid bewaar en die burgers op gelyke vlak saamgebind’. In 1665 het ‘n Franse besoeker aan Nederland verbaas opgemerk dat diensknegte so baie regte geniet dat hul meester hulle nie eens ‘n klap kon gee nie. Dit was die Romeins-Hollandse reg wat in die Kaap toegepas sou word… Belangrik was dat ‘n ondernemende arm man kon uitstyg tot die middestand. Die burgers was vryer om hul eie belange na te streef as elders in Europa.” (bl. 6)

In baie opsigte was sewentiende-eeuse Nederland die mees beskaafde en vooruitstrewende land ter wêreld. Dit was die tyd van die Nederlandse en Vlaamse Barokskilderkuns, met Rubens, Rembrandt, Frans Hals, Judith Leyster, Vermeer en baie ander wat die toon aangegee het. Dit was ook die tyd van die “Rederykers” en ‘n ongekende opbloei in die Nederlandse letterkunde met Vondel, Bredero en Hooft. Die voortreflikheid van die Nederlanse Goue Eeu word wêreldwyd deur kunskenners, letterkundiges, ekonome en historici erken, dog Adderjan Basson beskou ons voorouers as  onbeskaafd in navolging van Beeld se nuwe Engelse rubriekskrywer, Allister Sparks. Volgens Hermann Giliomee beskryf Sparks, wat ook Helen Zille se mentor was, iewers in sy boek The mind of South Africa ons Nederlandse, Franse en Duitse voorouers as:

“…surely the simplest and most backward fragment of Western civilization in modern times”.

My vraag aan Sparks, Basson en Loots sou wees: Waarom was ons dan so agterlik? Omdat ons nie van Engeland af gekom het nie? Staan die erfenisse van die Lae Lande, van Frankryk, Duitsland, om van Italië, Rusland en die res nie eens te praat nie, dan noodwendig terug teenoor dié van Engeland en haar Britse kolonies, soos die VSA en Australië? Voor die eerste wêreldoorlog was 60% van alle ingenieurs ter wêreld Duitsers en feitlik alle Britse motormaatskappye het tot niet gegaan om deur Duitse maatskappye oorgeneem te word. Die Britse Romantiese digters het na Italië gereis om kultuur te ervaar. Wat is die kriteria wat jingo-joernaliste (en ‘n pseudo-akademikus soos Loots) aanwend om ons en ons voorouers as “agterlik” te sien?

Weereens omdat Basson en Loots so min kennis van die Europese beskawing het en geen Europese tale lees of praat nie, slegs Engels, is hulle kwalik by magte om hulle oor ontsaglike onderwerpe uit te laat waaroor hulle nie kennis dra nie en self nie hul eie “agterlikheid” besef nie. Maar vir politieke korrektheid is domheid en onkunde waarskynlik voorvereistes, want daarsonder kan mens nie die simplistiese aannames en wanvoorstellings van dié ideologie klakkeloos herhaal nie.

Loots speel ook polities korrek as sy in Rapport kwytraak:

“Daar is min in sy (Van Riebeeck se) lewe wat spreek tot die diepte, erns en onafwendbaarheid van Suid-Afrikaners se onderlinge verhoudings. Van ons geworteldheid in Afrika en ons verbintenis aan Suid-Afrika, sou hy geen snars verstaan nie. Dat ons nêrens anders heen het om te gaan nie, en nêrens anders heen wíl gaan nie, maak van hom ’n onvanpaste ikoon vir moderne wit Suid-Afrikaners.”

Let daarop dat Loots nêrens die term “Afrikaner” gebruik nie, want soos die Britse marxiste en hul plaaslike dissipels aan haar voorskryf, bestaan daar mos nie meer “Afrikaners” in Suid-Afrika nie. “Afrikaner” is net een van vele “sosiale konstrukte” wat nie meer in hierdie korrupte Afro-Saksiese ryk nodig is nie. Daarom is Jan van Riebeeck ‘n “onvanpaste ikoon vir moderne wit Suid-Afrikaners”. By implikasie wil Loots sê dat sy ‘n “moderne wit Suid-Afrikaner” is wat onderdanig teenoor die kultuurmarxiste en hul swart marionette ingestel is en daarom bereid is om ons hele verhaal van 360 jaar tot “die asblik van die geskiedenis te verdoem”, soos Leon Trotski gesê het.

Terwyl Adderjan hom op Mapungubwe as die setel van wêreldbeskawing in vorige eeue beroep, waar glo intense myn- en brugbou plaasgevind het, gooi Sonjatjie soos dit ‘n anti-huisvrou-feminazi betaam, vir ons Eva van die Kaap, alias Krotoa, voor die kop. Terwyl die Van Riebeecks haar heel goed behandel het, het sy later ‘n “losbandige lewe” gelei en haar aan drank vergryp. Is Eva van die Kaap dan vir ons “moderne wit Suid-Afrikaners” die model? Toegegee, Sonja Loots se twyfelagtige skryfsels is genoeg om enigiemand na drank te dryf, maar wat is haar argument presies? Of weet sy self nie?

Loots verkwalik insgelyks Van Riebeeck daarvoor dat hy slawe besit het. Maar slawerny was deel van die kultuur in die Ooste en Batavië waar hy voorheen deur die V.O.C. verplaas is. Trouens, ek lees nou die dag op ‘n Islamitiese webwerf oor die wette aangaande slawerny in die Koran. Die beloning wat elke Moslem toekom wat die heilige oorlog (djihad) ten gunste van die Profeet gaan voer, is om slawe in die geledere van die verowerde ongelowiges of kafir te bekom. (Die Arabiese woord vir “ongelowige” is natuurlik waar die Afrikaanse woord “kaffer” vandaan kom.) Slawerny was dus as’t ware deel van daardie nie-Westerse geloof. ‘n Man het ook die volste reg om by sy slavin te slaap, al is hy self met een of meer vroue getroud. Dis tyd dat wit feminazi’s hulle op hoogte van al hierdie fynere punte stel, alvorens hulle hul dalk tot Islam bekeer soos wat die Franse skrywer, Michel Houellebecq, in sy jongste roman Soumission (Onderwerping) in die vooruitsig stel!

Soos die stigters van die Amerikaanse kolonie wat ook deesdae deur polities korrektes vir hul rassisme en slawe-eienaarskap verkwalik word, moes Van Riebeeck seker meer weerstand teen Islam en die slawekultuur van Indoniesië gebied het. Nietemin figureer slawerny nie so sterk in ons geskiedenis soos byvoorbeeld dié van die VSA, daardie heimat van alle “moderne liberale wit Suid-Afrikaners” met sy politieke korrektheid en rasse-obsessies nie, daarom moet Van Riebeeck se erfenis op ander gebiede na waarde geskat word.

G.D. Sholtz het in sy stel van agt boeke, Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, taamlik breedvoerig oor die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap geskryf, veral in deel I, 1652-1806. ‘n Interessante aspek wat die koms van Van Riebeeck na die Kaap voorafgaan, is die rol van die Franse Hugenote en veral Hendrik van Navarre, andersins bekend as Duplessis-Mornay, wat ook ‘n groot intellektuele en ideologiese rol in Nederland se opstand teen die Katolieke Spanje gespeel het. Dis nou die Nederlands-Franse intellektuele erfenis wat Allister Sparks, asook sy anglofiele dissipels Loots en Basson, as so “agterlik” beskou. Scholtz beskou Duplessis-Mornay se opvatting oor staatkundige vryheid as die riglyn wat Nederland in sy stryd teen Spaanse verdrukking gevolg het:

“‘n Tiran is volgens Duplessis-Mornay ‘n vors wat die wette verontagsaam, sy woord, verdrae, geregtigheid en die godsdiens verag. So ‘n vors is die vyand van God en mens. ‘Ons het hier dus nie te doen met ‘n vors wat nie heeltemal goed is nie, maar met een wat deur en deur sleg is, nie met een by dit aan wysheid skort nie, maar een wat volleerd is in die boosheid, nie met een wat die reg nie ken nie, maar met ‘n verraaier van die reg; nie met een wat in militêre opsig te kort skiet nie, maar met ‘n verraaier en verwoester van die vaderland’.”

Verraaiers en verwoesters van die vaderland… Hierdie sestiende-eeuse sinsnede uit die pen van Hendrik van Navarre kan ewe seer op die huidige Suid-Afrika toegepas word!

Ons sien dus dat Van Riebeeck, benewens Romeins-Hollandse reg, twee tradisies na die Kaap gebring het: godsdiensvryheid en politieke vryheid. Hoewel die V.O.C. die Vryburgers bloedweinig politieke vryhede veroorloof het, was daar tog ‘n mate van gee-en-neem tussen die Kompanjie en die burgery. Vir ongeveer honderd jaar of meer was Nederland die model van vryheid in Europa en het beroemde filosowe en denkers uit Engeland, Frankryk en ander lande gereeld in ballingskap in Nederland gaan woon weens die spraakvryheid daar en die moontlikheid om jou boeke te mag publiseer, teenoor die sensuur en onvryheid wat in soveel ander Europese state gegeld het.

Afrikaners het dieselfde verdraagsaamheid hier te lande voortgesit. Nooit was daar ‘n godsdiensoorlog op eie bodem nie. Oor die afgelope 360 jaar het sowel Moslems as Jode nog altyd godsdiensvryheid in Suid-Afrika geniet. Juis om daardie rede het ongeveer 40 000 Litouse Jode aan die einde van die negentiende eeu hierheen gevlug toe hulle in Litoue, Pole en veral Rusland vervolg is. Paul Kruger het hulle met ope arms in sy nuwe republiek aanvaar. Slegs enkele dekades later het daardie selfde Jode egter begin stemming maak teen Afrikanerregering en ook terreur teen ons gepleeg, in die vorm van Joe Slovo en Ronnie Kasrils se stedelike terrorisme.

Stank vir dank, is wat ons van soveel ander groepe in ons land ontvang het. Soos Giliomee egter in Die Afrikaners verklaar:

“Van al Suid-Afrika se gemeenskappe het die Afrikaners tot dusver die heel grootste impak, goed of sleg, op die land gemaak.”

Die koms van Jan van Riebeeck was die begin van daardie grootliks heilsame invloed wat tot onlangs van ons land die mees ontwikkelde in Afrika en in die wêreld gemaak het. Soos Nederland in die sewentiende eeu, is die vasteland en die wêreld deur ons letterkunde, musiek en kultuur verryk, al word ons vandag as tweederangse burgers in ons eie land beskou.

Interessant is dat die Nederlandse revolusie van die sestiende eeu deur twee groepe gelei is wat onderling in idees van mekaar verskil het: die Gereformeerdes en die sogenaamde “libertyne”. Die Gereformeerdes was meer begaan oor geloofsvryheid terwyl die libertyne meer in politieke vryheid belanggestel het. Franse en Nederlandse denke het in vrye wisselwerking verkeer en toe Nederland eers vry was, het sy haar drukperse aan die res van Europa, veral Frankryk, beskikbaar gestel en sodoende is een intellektuele en wetenskaplike revolusie na die ander op die Europese vasteland volvoer.

Sonja Loots stel haar onkunde oor die geskiedenis in Rapport ten toon as sy beweer:

“Van Riebeeck het geleef in ’n samelewing wat op die model van meester en slaaf geskoei was. Ons leef nie meer só met mekaar in hierdie land nie. Die plek waar Van Riebeeck sy fort gebou het, is dieselfde een waar duisende mense Nelson Mandela ná sy vrylating verwelkom het. Dit is navrant dat daardie groot staatsman se eertydse sekretaresse in ’n oomblik van woede teruggryp na ’n historiese figuur met bloedweinig waarde vir die vraagstukke waarmee ons hier en nou worstel.”

Ek wonder of Loots daarvan bewus is dat sy ‘n Franse leenwoord (“navrant”) hier bo gebruik in haar op-die-knieë-val voor die Xhosa van Qunu, pleks van haar gewone anglomanie en neigings tot Kaapse Engfrikaans.

Uit daardie ontmoeting van Nederlandse en Franse Protestante in die sestiende eeu is nie net die Nederlandse republiek nie, maar ook Suid-Afrika soos ons hom ken, gebore. Jan van Riebeeck was ‘n verteenwoordiger van daardie glorieryke tradisie wat inderdaad die wêreld sou verander.

Daarom kan ek vandag met trots sê: Ek is Jan! Laat ons die verraaiers, die jingo’s en ‘n half-Engelse, half-Zoeloe-tiran soos Zuma se filistynse aantygings met die minagting verwerp wat hulle verdien.

Naskrif: Aanstaande maand is PRAAG 15 jaar oud! Ons kan dit dan vier, of dalk sommer op 6 April ter ere van Jan van Riebeeck en ons hele tradisie bymekaar kom om ‘n heildronk te drink?


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.