SAIR: Polisie is ‘n staatsondersteunde ‘misdaadbende’

Deel op

‘n Verslag wat Woensdag deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) vrygestel sal word, beskryf die Suid-Afrikaanse polisie as ‘n staatsondersteunde misdaadbende.

Getiteld “Broken Blue Line 2”, dui die verslag daarop dat oortredings nie meer net “geïsoleerde voorvalle” is nie, maar ‘n “patroon van misdadige gedrag” volg.

“Van die polisie word verwag om misdaadbendes te infiltreer. In Suid-Afrika het misdaadbendes die polisie geïnfiltreer. Dit is miskien die vreesaanjaendste en belangrikste bevinding,” lui die verslag.

Die SAIRV se inligting is gegrond op 100 gevalle tussen April 2011 en Januarie 2015 van ernstige misdade wat wissel van moord en verkragting tot roof, waarby polisielede betrek word. Dit studie sluit nie eens gevalle van korrupsie en omkopery in nie.

Die korrupte en veroordeelde Jackie Selebi, die eerste swart polisiehoof, het die mag van 100 000 tot 155 000 laat aangroei met swart aanstellings.

Selebi het dadelik ook gesorg dat hy die gespesialiseerde narkotikaburo ontbind as guns aan sy vriend die dwelmbaas Glenn Agliotti en daarmee toegesien dat die polisie die dwelmverspreider van voorkeur word.

‘n Kultuur van nepotisme, transformasie, rassebeheptheid, onbevoegdheid en wanbestuur heers glo binne die SAPD, het oud-polisielede gesê. Wit lede met ervaring het byna geen kans op bevordering nie.

Nie een van die bepalings in 2012 se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) dat offisiere van die polisie geoudit moet word om te sien of hul vaardighede en kwalifikasies op peil is, is intussen nagekom nie.

Die verslag sal Vrydag aan genl. Riah ­Phiyega, die nasionale ­polisiehoof, oorhandig word.

Duisende diensvuurwapens wat jaarliks “wegraak” word deur polisielede aan misdaadsindikate verkoop.

Net verlede week het ‘n polisie-kolonel in die hof in Vereeniging verskyn nadat sy betrokkenheid by die beweerde verskaffing van wapens aan bendes op die Kaapse Vlakte aan die lig gekom het.

‘n Egpaar is ook in dieselfde week in die ooste van Pretoria gekaap deur lede in polisie-uniforms met polisietoerusting. Die SAPD het erken polisielede moontlik by die roofbende betrokke is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.