‘n Kantoorgebou in Cambridge Office Park in Highveld, in Centurion is Donderdagmiddag ná ‘n antraksdreigement ontruim. Antraks of miltkoors is ‘n dodelike bakteriële stof.
Hugo Erasmus, voorsitter van die Lytteltonse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sektor 1, het gesê die gebou is rondom drieuur ontruim toe ‘n wit poeier gekry is.
Erasmus, wat op die toneel was, het gesê ‘n pakkie is uit die gebou ontruim. Die bomeenheid het die pakkie verwyder wat op die toneel was met die stof.
Erasmus het verduidelik dat mense nie toegelaat is om die toneel te verlaat nie en is tydelik onder kwarantyn geplaas.
Miltkoors is ‘n dodelike en hoogs aansteeklike siekte wat feitlik alle mak (byvoorbeeld beeste, skape, bokke) en wilde (byvoorbeeld koedoe, buffel, sebra) diere aantas en word veroorsaak deur die bakterie Bacillus anthracis.
Miltsiekte tas die mens ook aan. Diere vrek baie gou aan miltsiekte weens ‘n dodelike septisemie (bloedvergiftiging). Die belangrikste letsels is wydverspreide bloedings, swellings (edeem) en die afsterf van weefsels.
Diere met miltsiekte skep ‘n ernstige gevaar vir die mens. Dit is ‘n beroepsiekte vir persone wat noue kontak met diere het, sowel as werkers wat met wol en huide asook bloed- en beenmeel werk.