Rand versterk ná nuus van Europese stimulasieprogram

Deel op

Die euro het op globale markte verswak en die rand versterk nadat die Europese sentrale bank (ESB) aangekondig het dat hy ‘n maandelikse bedrag van €60 miljard gaan aanwend om die eurosone-ekonomie te stimuleer met sogenaamde “kwantitatiewe verligting”. Behalwe dat die euro oornag teen die VS-dollar gedaal het, mag die Suid-Afrikaanse ekonomie ook baat by groter handel met die EU.Kwantitatiewe verligting is ‘n tegniek wat die Federale Reserwe van die VSA oor die afgelope aantal jare toegepas het, waardeur die bank geld druk en daarmee sy eie langtermynstaatseffekte koop. Dit veroorsaak dan ‘n daling in langtermynrentekoerse wat dit vir maatskappye en individue goedkoper maak om geld te leen.

Die president van die ESB, die Italianer Mario Draghi, sê dat die bank sy program om bates aan te koop uitbrei om staatseffekte en Europese institusionele skuld in te sluit. Van Maartmaand af sal die bank elke maand €60 miljard se effekte aankoop, iets wat tot September 2016 sal inhou.

Volgens ontleders in Johannesburg is Suid-Afrika een van die “ontluikende markte” wat by soortgelyke geldskepping deur die Amerikaanse Federale Reserwebank gebaat het. Dié program het egter einde verlede jaar ten einde geloop. Die meeste geld wat sodoende deur die sentrale bank vrygestel is, is in ontluikende markte se effekte belê aangesien hulle hoër rentekoerse as die uiters lae koerse in die ontwikkelde ekonomieë betaal.

Volgens ‘n senior ekonoom in Johannesburg, Craig Parker, sal die ESB se stap egter “in ‘n beperkte mate” ‘n kontantinspuiting vir Suid-Afrika beteken. Indien dit die vraag in Europa stimuleer, sou dit egter tot ‘n toename in Suid-Afrikaanse uitvoere lei.

‘n Hoofhandelaar in ontluikende markte by Investec-batebestuur, Ryan Wibberley, meen dat €60 miljard “aan die bokant” van die markverwagting was en dat globale aandelemarkte dus styg met die vooruitsig van meer geld wat in die Europese Unie ingepomp gaan word. Aandelemarkte het ook in aanloop tot die aankondiging gestyg, sê hy.

“Die aankondiging is ook goed vir die goudprys, maar nie vir die euro nie, met die Europese geldeenheid wat tot die laagste vlak in elf jaar teen die dollar ($1,1455) gedaal het, wat beklemtoon dat daar geen opbrengs op geld in die eurosone is nie. Handelaars soek daarom na opbrengs in die VSA en elders,” sê hy.

Die Suid-Afrikaanse staatseffek, die R186, het reeds met 70 basispunte gestyg sedert 2 Januarie, met oorsese beleggers wat na ‘n beter opbrengs soek.

Gistermiddag laat het globale markte gestyg ná die ESB se aankondiging. Die Dow Jones-nywerheidsindeks het sterker geopen en die Stoxx Europe 600-indeks het tot die hoogste vlak in sewe jaar gestyg.

Plaaslike het die rand gisteraand gestyg en het 1,2% teen die dollar veld gewen, tot op R11,3748, terwyl die opbrengs op die R185-staatseffek met 0,62% gestyg het.

Hierteenoor het die euro skerp gedaal en vanaf sy vorige sluiting op R1,1614 tot $1,1455 afgeneem. Teenoor die rand het die euro ook gedaal en verhandel tans teen R13,1466 teenoor die vorige R13,3669. Die JSE-effektebeurs het met 1,52% gestyg ná die aankondiging maar het effens veld verloor om met ‘n styging van 0,76% te sluit op 49 967,40 punte. Banke, asook platinumaandele en hulpbronne het gepresteer.

Vroeër het die ESB sy herfinansieringskoers op 0,05% gelaat en sy repokoers op 0,30%.

Wibberley van Investec meen dat goedkoop geld in die vorm van kwantitatiewe verligting batepryse ondersteun: “Jy leen geld teen niks en belê dit in die mark… wie sou dit nie doen nie?”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.