Polisie sê Soweto-geweld is onder beheer

Deel op

Buitelanders moes uit Soweto vlug, of skuiling gaan soek by polisiestasies in die gebied, ná die jongste vlaag van geweld teen hulle.

Die geweld het Maandagaand uitgebreek nadat ‘n buitelandse winkeleienaar na bewering die 14-jarige Siphiwe Mahori in Snake Park doodgeskiet, omdat Mahori glo sy winkel wou beroof.

Die Gautengse polisiekommissaris, Lesetja Mothiba hou nietemin vol dat die polisie genoeg mannekrag het om die aanvalle onder beheer te bring.

Hy sê egter die polisie se nasionale leierskap is in kennis gestel dat bykomende magte op bystand moet wees.

Die polisie moes inderhaas ontplooi word om die plundery van winkels wat aan buitelanders behoort in Soweto hok te slaan. Volgens Lesetja is meer polisiebeamptes ontplooi in die gebiede wat deur die plundery geraak word.

Die geweld het in Soweto begin, en ook na Diepkloof en Kagiso versprei.

Asad Ali, wat ‘n selfoon-herstelwinkel gehad het, sê hy soek nou ‘n ander plek om sy winkel oop te maak.

Die adjunkvoorsitter van die Somaliese-vereniging van Suid-Afrika, Cassim Ali het die plundery as vreemdelingehaat én misdaad bestempel.

Meer as 120 mense is tot dusver in hegtenis geneem op aanklagte wat wissel van moord tot diefstal en die polisie het beslag gelê op tientalle onwettige vuurwapens.

Mothiba sê hulle is besig met ‘n ondersoek na waar die vuurwapens vandaan kom.

Drie polisiebeamptes, wat nie in uniform geklee was nie, het ‘n Sapa-verslaggewer glo Donderdag gedwing om foto’s van haar selfoon uit te vee wat sy van ‘n Somaliër se winkel in Dobsonville, Soweto, geneem het.

Die verslaggewer is afgetrek deur ‘n polisievoertuig nadat sy die foto’s geneem het.

“Die een beampte het oor my skouer geloer om seker te maak dat ek alles uitvee,” het Mpho Raborife gesê. “Hy het daarna gesê ek mag nie ʼn foto op die toneel neem nie, aangesien dit openbare geweld is, so dit val onder hulle jurisdiksie.

“Hulle het toe gesê ek mag in elk geval nie die foto’s neem nie omdat ek nie toestemming gevra het nie, en ek kan nie net by ʼn toneel opdaag en foto’s neem en dan wegry nie.”

Die polisie het haar verslaggewerskaart en selfoon by haar afgeneem. Daarna het die beamptes volgehou dat sy hulle na die Dobsonville-polisiestasie moet vergesel en geweier dat sy haar werkgewer bel. Hulle is uiteindelik nooit na die stasie nie.

Die polisiebeampte het volgehou dat sy nie daar mag foto’s neem en dit aan die publiek mag ‘uitlek’ nie. Hulle het haar selfoon en verslaggewerskaart teruggegee eers nadat sy die foto’s uitgevee het.

Mark van der Velden, redakteur van Sapa, het gesê die verslaggewer het haarself met haar verslaggewerskaart geïdentifiseer en alhoewel die polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig was, het hulle siviele klere aangehad en het hulself nie voldoende geïdentifiseer nie. “Die feite tot dusver dui daarop dat die gedrag van die beamptes uiters onprofessioneel was en dit voldoen nie aan die prosedure nie. Die polisiebeamptes het klaarblyklik moeite gedoen om ʼn joernalis te intimideer en wou inligting in openbare belang onderdruk oor ʼn aktuele nuusstorie oor xenofobie.”

Volgens Van der Velden word die polisie verbied om enige media te dwing om foto’s uit te vee. Hy het bygevoeg dit is nog ʼn voorval van polisiebeamptes wat staande bevele verontagsaam.

Sapa gaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn formele klag by die polisiekommissaris se kantoor aanhangig maak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.