Plaasaanval in Namibië skok

Deel op

Sy pa is erg getraumatiseerd en wil nie oproepe of besoekers in die private kliniek op Gobabis, Namibië ontvang nie.

Só sê mnr. Marius van Moltke, die seun van die bejaarde egpaar, mnr. Ackerman (Acker) von Moltke en sy vrou, Dorea, wat Sondagnamiddag op hul plaas deur twee mans aangeval is.

Die egpaar het by hul ander seun gaan kuier wat in die omgewing van Hochfeld boer. Met hul tuiskoms omstreeks 17:00 op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die Summerdownpad, is hulle deur twee vreemde mans ingewag, oorval, vasgebind en beroof.

“My man is 71 jaar oud, maar hy het soos ‘n jong man baklei,” het me. Von Moltke aan Republikein vertel, maar gister het dit emosioneel glad nie met hom goed gegaan nie.

“Ek dink die skok het nou eers ingetree; hy is erg getraumantiseerd,” het sy gesê van die oudonderwyser wat op Grootfontein geskiedenis onderrig het.

Hoe gaan dit met haar? “Ek bly staan. Hulle het my nie seergemaak nie.”

Von Moltke vertel met hul aankoms op die plaas het die twee mans (sy skat hul ouderdom in die vroeë dertigs) reeds toegang tot hul huis gekry.

“Alles was reeds uit die kaste gegooi. Hulle moes ons honde baie bang gemaak het. My man het die huis baie beveilig, maar hulle het die staaldeure met byle oopgekap.”

Sy vertel dat die aanvallers agter die dam moes geskuil het en hulle by die hek ingewag het: “Toe my man die hek agter ons toemaak, het hulle hom van agter bestorm en aangerand.”

Hy is met ‘n stomp teen sy kop geslaan, het ‘n groot wond op sy regterarm by sy skouer, ‘n groot snywond teen sy ribbes en talle meswonde en snye op sy lyf wat steke moes kry.

Volgens van Moltke kon haar man daarin slaag om die lem van een van die aanvallers se mes af te breek en in die dam te gooi, “maar toe ruk hy ‘n tweede mes uit en steek my man verder daarmee”.

Die egpaar is deur die aanvallers na die huis geneem en gedwing om die kluis oop te sluit, maar daar was nie geld in nie.

Hulle is in die badkamer vasgebind en toegemaak, maar die aanvallers kon nie die sleutel kry nie en die egpaar is toe in die enjinkamer toegesluit.

“My man het gelukkig ‘n mes in sy sak gehad en hy kon ons lossny. Toe ons die voertuig hoor wegry, het my man in sy toestand die hoeksteenslyper gevat en die staaldeur van die enjinkamer daarmee oopgesny.”

Von Moltke het dadelik met haar bebloede man hospitaal toe gejaag. Sy praat met lof van die buurtwag wat hul bystand verleen het met geld, ‘n selfoon en klere.

“Ons beursies met bankkaarte, selfone, my rekenaar en pistool is onder meer gesteel. Die gemeenskap het vir ons geld, ‘n selfoon en klere gebring,” vertel sy.

Die egpaar se bakkie is Maandag op Witvlei gevind met hul dokumente daarin. “Die aanvallers het vir ons gesê hulle gaan die bakkie êrens los.”

Von Moltke vertel dat hulle al sowat 18 jaar boer en sy kan nie glo dit met hulle gebeur het nie: “Ons werk alleen en het nie werkers op die plaas nie, so dit is nie ‘n geval van ‘n voormalige plaaswerker wat ‘n wrok teen ons dra nie. Dit is vreemde mense.”

Die polisie se streekskommissaris van Omaheke, komm. Josaphat Abel, het die voorval bevestig en gesê dat die ondersoek voortduur en geen verdagtes dusver in hegtenis geneem is nie.

“Die slagoffers is besig om goed te herstel en die bakkie is by Witvlei gevind. Ons ondersoek duur voort.”

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.