ANC politiseer kragvoorsiening om privatisering te verhoed

Deel op

‘n Witskrif van 1998 rakende Suid-Afrika se energie-aanvraag het voorspel dat kraglewering teen 2007 onder geweldige druk sou kom. Die ANC blameer ‘n moratorium wat tot 2004 in plek was, vir voorsieningsprobleme.

Eskom se eie ingenieurs het bereken dat ‘n nuwe steenkoolkragstasie elke drie jaar gebou sou moes word om aan die groeiende vraag te voldoen en die regering moes byna 10 jaar gelede ‘n moratorium ophef wat sou verhoed dat nuwe sentrales gebou word.

Boonop is die kragsentrales wat nog in gebruik is, meer as 40 jaar oud en moet dringend vervang word.

Eskom het intussen erken dat die nodige instandhouding nie gedoen is nie, maar president Jacob Zuma hou nietemin steeds vol dat dit ‘n historiese feit is dat die apartheidsregering die skuld moet dra vir die land se energiekrisis.

Zuma het met die ANC se 103de verjaardag in Kaapstad bygevoeg dat die nasionale kragnetwerk onder druk is omdat dit nie bedoel was om vir swartmense voorsiening te maak nie.

Alhoewel die meeste stedelike swartes tans toegang tot elektrisiteit het, is hulle berug as wanbetalers. Die meeste kragdiefstal, byna 10%, kom in Soweto voor. Herhaaldelike veldtogte om wanbetaling hok te slaan, het ook misluk.

Selfs Appèlhofuitsprake beskerm swart wanbetalers.

Daar is aanvanklik gemeen dat energievoorsiening geprivatiseer moes word, maar die ANC het ‘n stokkie daarvoor gesteek.

Kenners meen dat privatisering egter kragpryse negatief sal raak en dat dit weliswaar goedkoper is as ‘n funksionerende staat krag voorsien.

Die land het die afgelope tyd ‘n ernstige tekort aan krag wat verskeie kere tot beurtkrag gelei het.

Zuma het sedertdien onder kritiek deurgeloop omdat hy wit vaardighede misken en apartheid as verskoning vir sy regering se mislukkings gebruik, maar die president weier om van sy standpunt af te sien.

Die Tesourie is onder druk om die finansiële krisis binne Eskom te hanteer. Daar is R20 miljard aan Eskom toegewys om vir die voorkoming van beurtkrag aan te wend.

Kragonderbrekings het sedert 2008 die ekonomie ‘n geraamde 300 miljard rand gekos.

Intussen het Nampower, die Namibiese kragvoorsiener, elektrisiteit aan Eskom beskikbaar gestel. In die opvangsgebiede van die Kunenerivier, kan Namibië buite spitstye, laatnag, elektrisiteit uitvoer dansky milde reëns.

“Ons voer tans tot 200MW elektrisiteit aan Suid-Afrika uit,” het Werner Graupe, senior bestuurder vir energiehandel by NamPower, aan Sapa gesê.

“Die elektrisiteit kom van ons Ruacana-hidrokragaanleg op die Kunenerivier wat aan Angola grens. Weens die goeie reën in die area, veral in die suide van Angola, vloei die Kunenerivier sterk, soms tot 300 kubieke meter per sekonde, en kan ons tot 200MW uitvoer,” het Graupe gesê.

Namibië voer gewoonlik tot 60% van sy elektrisiteit in, insluitend van Eskom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.