Zelda La Grange en as die Afrikaner sy rug op ander begin keer

Deel op

Met Zelda La Grange wat nou wonder of Francois Hollande haar in Frankryk sal terugneem (vermoedelik vanweë haar Hugenotevan), kan ek sommer nou vir haar sê: Francois Hollande gee vir jou g’n snars om nie. Trouens, as Franse sosialis gee hy nie eens vir sy eie mense om nie; hoe meer derdewêreldimmigrante in sy land, hoe meer stemme vir hom!

JpegEk is baie lief vir Frankryk, is mal oor Franse kaas en letterkunde, maar nêrens ter wêreld sou ek enkele weke gelede op Kersdag só kon verkeer tussen my eie mense en in my eie taal onder ‘n koelteboom op ‘n sonnige dag met nie ‘n wolkie in die blou hemel nie (sien foto hiernaas). Afrikaners het reeds die utopie in Suid-Afrika geskep: ons taal, ons kultuur, ons lewenstyl met braaivleis, asook heerlike groente en vrugte wat ons formidabele en miskende boere op hul plase vir ons kweek. Wat meer het ons nodig as om onder ‘n koelteboom te sit en smul aan die oorvloed wat ons eie mense vir ons produseer, met vlytige Afrikaanse vrouens wat dit alles opdis terwyl die mans die vleis braai?

Al wat ons eie hemel-op-aarde bederf, is politiek: dié van die Verraaierkaners wat heul met die vyand om ons mooi land tot die status van ‘n Zimbabwe of Mosambiek te verlaag, asook ‘n paar duisend uitlanders in Johannesburg en Kaapstad wat ons land vir eie gewin wil plunder en bereid is om alles in die proses te vernietig. Jare lank al saai hulle haat en draketande teen ons, maar tog kry ons dit reg om te oorleef en aan te gaan.

Zelda La Grange is gister in die Sunday Independent op die voorblad as 'n 'rassis' gebrandmerk, in weerwil van haar jare lange pogings om polities korrek te praat en op te tree
Zelda La Grange is gister in die Sunday Independent op die voorblad as ‘n ‘rassis’ gebrandmerk, in weerwil van haar jare lange pogings om polities korrek te praat en op te tree

Miskien gee ons te veel aandag aan ons vyande en aan daardie klein groepie luidrugtige Verraaierkaners wat alle aspekte van ons lewens wil versuur, ons vloek en beledig, in hul angsvallige pogings om by die vyand witvoetjie te soek? Net soos Zelda gekry het wat sy verdien, só sal elkeen se beurt nog aanbreek om as “rassis” en wat nog uitgekryt te word. Maar gestel ons steur ons net nie meer aan ons vyande nie en gaan bloot rustig voort om ons eie lewens so gemaklik moontlik te maak en om ons eie taal en kultuur uit te bou tot iets wat nog groter is as wat dit reeds is? Ignoreer die vyand en hou hom van jou lyf af. Span genoeg elektriese drade tussen jou en hom dat hy nie meer naby jou kan kom nie.

Wagkamer van die Midstream-landgoed- mediese sentrum
Wagkamer van die Midstream-landgoed se mediese sentrum

Saterdag moes ek naarstiglik na ‘n kliniek soek om my siek suster heen te neem. Ons ry toe daar in Centurion rond; een nuwe kliniek maak eers Maandag oop en kan dus niks vir ons doen nie. Uiteindelik beland ons in ‘n plek genaamd Midstream Estate se mediese sentrum. Die vriendelike, hulpvaardige personeel – een en almal Afrikaners – het ons vinnig gehelp. Op hierdie foto is die wagkamer van die kliniek: dis beter as eerstewêrelds. Ná die dokter my suster gesien het, help ‘n jong paramedikus haar op ‘n hospitaalbed agter ‘n skuifdeur in die gang van die kliniek. Alles is hipermodern, silwerskoon, pynlik netjies. Intussen gaan koop ek solank haar medisyne by die apteek wat deel van die soort ommuurde volkstaat-in-die-kleine is, met ‘n Spar, ‘n Mugg-n-Bean en ‘n paar ander winkels. In die apteek het ek skaars begin toustaan met die voorskrif of ene Rika, blond met blou oë en ‘n modieuse brilletjie verskyn uit die niet: “Kan ek u help, meneer?”

Oral binne Midstream Estate praat mense Afrikaans. Kinders ry sorgeloos op fietse in die strate, amper soos in die Suid-Afrika van weleer. Dis skoon, netjies en veilig, ‘n soort volkstaat-in-die-kleine, reg tussen Johannesburg en Pretoria. Hiperkrities soos ek is, steek al die Engelse tekens en saai Engelse naamgewing my dwars in die krop. Dis nog lank nie ideaal nie, maar op ‘n baie praktiese manier het mense ‘n model gevind om só geprivatiseer met eie veiligheid, skole en mediese sorg binne enklawes in ‘n vervallende Suid-Afrika te oorleef.

Is dit nie dalk die model vir die toekoms nie? Soms voel dit vir my ons vereer ons vyande – wit, swart, bruin of wat ook al – met ons aandag. Ons skryf oor hulle, praat oor hulle, steur ons aan hulle.

Iewers het die Sestigerskrywer Jan Rabie ‘n baie mooi verhaaltjie genaamd “Droogte” geskryf in sy boek 21. Dit gaan oor ‘n wit baas en ‘n swart klaas. Dis amper profeties want die blanke wil saam met die swarte ‘n huis bou:

“Dis tyd dat jy die bloedige verlede vergeet,” sê die witman verdriegtig. ‘Kom, jy moet leer om saam met my te werk. Ons moet hierdie huis bou.”
“Jy kom om my te leer dat God wit is, dat ek ‘n huis vir die witman moet bou!” Die swartman staan met gevoude arms.
“Kaffer!” roep die witman, “sal jy nooit niks verstaan nie! Doen wat ek sê!”
“Ja, Baas,” brom die swartman.

Die huis wat gebou word, is egter ‘n huis sonder deure en vensters want, soos die witman aan die swartman verduidelik:

“Lank gelede in ‘n ander land het my voorgeslagte mure gebou om die see uit te hou. Dik, waterdigte mure. Daarom het my huis ook geen deure en vensters nie.”
“Maar hier is g’n groot water nie!” roep die swartman uit, “die sand is droog soos ‘n skedelbeen!”
Jy is die see, dink die witman, sonder om verder te praat.

Aan die einde van die verhaal, roep die swartman na die witman: “Kom uit, Baas!” Maar daar is geen antwoord nie en dit eindig met die volgende reëls:

Met sy vuiste nog steeds gelig asof om weer te klop, staar die swartman verwilderd op in die hemel sonder ‘n enkele wolk, en rondom hom na die horison waar warrelwinde rooi-warm stof die vreeslike Ngoma van die droogte dans.
Dan stamel die swartman verlate en beangs:
“Kom uit, Baas… Kom uit na my…”

Só eindig Rabie sy kort-kortverhaal. Volgens die datum aan die einde van die teks is dit in Desember 1951 geskryf. Op ‘n stadium in die vyftigerjare het Rabie, begeester deur Afrikaans en die idee om ‘n moderne Afrikaanse letterkunde te skep, brandarm in Parys gewoon en om te oorleef koolblare by die mark gaan optel wat hy na sy klein woonstelletjie op die Linkeroewer geneem het om sop van te kook.

Leon Lemmer skryf ook vandag in sy rubriek op praag, in antwoord op Koos Kombuis:

Party (etniese) groepe het ander meer nodig as wat omgekeerd die geval is omdat party groepe meer ontwikkeld, kundig, ens, en beter aangepas by bv die ekonomiese en tegnologiese werklikhede is. Blankes bly die norm waaraan ander groepe hulle meet, al word dit nie openlik en sekerlik nooit amptelik erken nie.’

Die tyd is dalk nie meer ver dat daardie wanhopige kreet, “Kom uit, Baas… Kom uit na my…” in Suid-Afrika gaan opklink nie, die dag as Eskom finaal inkonk en die staatskas uiteindelik dolleeg gesteel is.

Maar soos Rabie in sy verhaaltjie suggereer, moet ons soos ons voorouers doer ver in Nederland begin dyke bou om onsself te beskerm. In baie van die veiligheidsbuurte in Gauteng en elders gebeur dit reeds. Hierdie proses sal egter versnel moet word sodat meer en meer mense veilig en volgens beskaafde norme sonder vrees kan woon, asook heen en weer werk toe op die snelweë kan ry. Ook moet daar veiligheidsbuurte ontwerp word wat onbeskaamd Afrikaans is: met Afrikaanse name, Afrikaanse winkels, Afrikaanse skole, Afrikaanse alles.

Dis ‘n meer pragmatiese en minder politieke oplossing vir ons probleem. Afrikaners is egter in staat om genoeg rykdom in die stedelike gebiede te skep om uiteindelik meer te doen as om bloot in taamlike weelde te oorleef. As staatlose burgers van ‘n sterwende republiek kan ons steeds bilaterale verhoudinge met ander lande en handelsvennote handhaaf waarby die ANC-staat nie eens betrokke hoef te wees nie. Saam met ons volksgenote in Australië, Kanada, die VSA en Europa kan ons vir ons ‘n globale ekonomie skep wat ons soos Jode in staat sal stel om as transnasionale volk hele nywerhede en markte te oorheers.

Uiteindelik mag ons selfs van die probleem-geteisterde Suid-Afrika vergeet, op dieselfde manier as wat die meeste Europese lande van hul voormalige kolonies vergeet het, behalwe om af en toe ‘n aalmoes in die vorm van hulpgeld daar te gaan uitdeel. Maar ons sal nie eens ‘n aalmoes hoef uit te deel nie. Soos in Rabie se storie, sal ons horende doof wees.

Sedert Jan van Riebeeck se tyd het ons ons bes probeer. Selfs dít was nie goed genoeg nie. Tyd om daardie Afrikanerhuis te bou.

Je suis Jan! soos almal verlede week gesê het.


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.