Charlie Hebdo vra dat Moslems humor aanvaar

Deel op

Zineb El-Rhazoui,’n rubriekskrywer van Charlie Hebdo wat aan die jongste uitgawe gewerk het, het ’n beroep op Moslems gedoen om humor te verdra.

“Ons haat hulle nie. Ons weet die stryd is nie met hulle as mense nie, maar met ’n ideologie,” het sy gesê.

Die terreuraanslag het verlede Woensdag begin met die moordtog deur die broers Chérif en Saïd Kouachi by Charlie Hebdo – bekend om sy draakstekery met Islam en ander godsdienste – en Vrydag geëindig met die gyselaarsdrama in ’n Joodse kruidenierswinkel waarin vier gyselaars en ’n terroris, Amedy Coulibaly, dood is.

El-Rhazoui het gesê sy haat nie die twee broers nie. Die oorlewende joernaliste het gesê die weekblad sál weer verskyn.

Die voorbladtekening is deur die spotprenttekenaar Luz, wat die moordtog vrygespring het omdat hy laat was vir werk.

“Die twee terroriste wat ons kollegas vermoor het, ons kan nie haat voel nie­… Die mobilisasie wat ná die verskriklike misdaad in Frankryk plaas­gevind het, moet die deur oopmaak vir vergifnis. “Almal moet dink oor dié vergifnis,” het El-Rhazoui gesê.

Sy het gesê kollegas is dood weens klein tekeninge en ’n grap, “maar wat gebeur het, is geen grap nie”.
“Moslems moet verstaan ons behandel Islam soos enige ander geloof in ons land en hulle moet ook humor aanvaar.”

‘Media tart deur dit te publiseer’

Prins Hassan bin Talal van Jordanië meen die jongste Charlie Hebdo-tekening vryf net sout in die wonde.

Omer el-Hamdoon, leier van die Moslemse vereniging van Brittanje, het gesê: “My reaksie op die tekening is walging, maar neig eerder tot irritasie omdat ek voel wat hier gebeur, is soos dit wat in 2005 gebeur het met die Deense tekeninge toe die media die spotprente oor en oor as uittarting gepubliseer het.”

François Fillon, gewese Franse premier, het gesê die voorblad is puik: “Ek het Charlie Hebdo nog altyd verdedig.”

Zineb El-Rhazoui, ’n rubriekskrywer van Charlie Hebdo, het gesê Moslems kan die tydskrif ignoreer as hulle aanstoot neem.

“Ek sal aan hulle sê dit is ’n tekening, hulle word nie gedwing om dié uitgawe te koop as hulle nie ons werk waardeer nie. Ons doen net ons werk, ons oortree nie wette nie.”

Vier Joodse slagoffers van verlede week se aanval in ’n kruidenierswinkel in Parys is gister begrawe.

Pres. Reuven Rivlin het in Jerusalem oor Yohan Cohen, Yoav Hattab, Philippe Braham en Francois-Michel Saada gesê: “Ons wou julle lewend hê, ons wou lewe vir julle hê. ’n Hele nasie huil saam.”

Pres. François Hollande van Frankryk het gister die Legioen van Eer toegeken aan die drie polisielede wat in die terreur dood is.

Franck Brinsolaro (49) en Ahmed Merabet (40), ’n Moslem, is die twee polisielede wat in die aanval op Charlie Hebdo gesterf het.

Die polisievrou Clarissa Jean-Philippe (26) is die volgende dag deur die terroris Amedy Coulibaly doodgeskiet toe sy opgedaag het by die toneel van ’n motorongeluk waarin hy betrokke was. Hy was vermoedelik op pad na ’n Joodse skool.

Hollande het tydens ’n medaljeseremonie gesê Frankryk sal nooit knak onder die Islamitiese bedreiging wat “steeds hier – binne en buite” bestaan nie.

Frankryk is al jare lank nou betrokke by Westerse militêre operasies in die Midde-Ooste, onder meer ook in Sirië.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.