Waarnemerspan na Zambië waar verkiesingstryd warm word

Deel op

‘n Waarnemersending, SEOM, van die SAOG het in Lusaka, Zambië, aangekom om te verseker dat die land se presidentstussenverkiesing op 20 Januarie vreedsaam, vry en regverdig verloop.

Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking wat die waarnemerspan lei, het in Lusaka gesê SEOM sal hom deur die grondwetlike waarborge van vryheid en die regte van die burgers laat lei.

Sy sê altesaam 65 waarnemers sal landwyd ontplooi word om toesig oor die kiesproses te hou. Hulle sal ook ná afloop van die verkiesing seker maak die uitslag word aanvaar en gerespekteer, en sou dit betwis word, verseker dat die proses kragtens wetgewing geskied.

Die verkiesing is ingevolge dié land se grondwet afgekondig en gee gehoor aan die bepaling dat ’n tussenverkiesing binne 90 dae ná ’n president se afsterwe gehou moet word.

Die Zambiese staatshoof, pres. Michael Sata (77), is op 28 Oktober verlede jaar ná ’n kort siekbed in Londen oorlede, waarna die 70-jarige Guy Scott, ‘n witte, die leisels oorgeneem het. Hy was voorheen die adjunkpresident.

Scott kan egter nie president word nie weens ’n konstitusionele bepaling wat hom verhoed omdat sy ouers nie in Zambië gebore is nie.

Zambiërs het in November teen Scott betoog toe hy probeer het om Edgar Lungu, sekretaris-generaal van die Patriotiese Front (PF), af te dank. Honderde Lungu-ondersteuners het oornag na Lusaka opgeruk. Lungu staan midde in die opvolgstryd.

Talle Zambiërs glo Scott se poging om Lungu af te dank, was om Lungu se kanse om die PF se presidentskandidaat te word in die wiele te ry. Scott is glo ’n bondgenoot van Wynter Kabimba, ’n voormalige minister van justisie en Lungu se teenstander.

Dokumente wat toon hoe Lungu skuldig bevind aan professionele wangedrag deur die Wetlike Vereniging van Zambië nadat hy geld uit ‘n kliënt se rekening gesteel het wat hy beweer hy het verteenwoordig, het opgeduik in die media.

Lungu is ook die land se minister van verdediging. Hy is deur Sata uitgesonder as ’n tussentydse leier voordat Sata die land verlaat het om mediese behandeling in Londen te ontvang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.