Teleurstelling dat e-tol nie geskrap word nie

Deel op

Daar is groot teleurstelling dat die e-tol-hersieningspaneel nie aanbeveel het dat die stelsel in Gauteng geskrap moet word nie.

Die meerderheid van mense en organisasies wat voorleggings gedoen het, het gemeen die stelsel is onregverdig en behoort laat vaar te word.

Die paneel se verslag, wat meer as 50 aanbevelings insluit, is gister deur die premier van Gauteng, David Makhura in Johannesburg bekend gemaak. Hy het gesê die stelsel plaas ʼn buitensporige las op lae- en middelklas inkomste huishoudings.

Die paneel is in Julie verlede jaar deur Makhura aangestel om die sosio-ekonomiese impak van die stelsel te ondersoek. Die paneel het sy verslag op 30 November reeds aan Makhura oorhandig, maar die inhoud daarvan is eers vandag bekend gemaak.

“In sy huidige vorm is die e-tolstelsel onbekostigbaar en onbillik,” het Makhura gesê. “Dit is ook ʼn administratiewe rompslomp.”

Makhura het die media in Johannesburg toegespreek. Hy het egter gesê die implementering van die stelsel het die ekonomie en inwoners van Gauteng bevoordeel.

Makhura het gesê die gehalte van die pad is beter, reistyd het verminder, brandstofdoeltreffendheid het verbeter, voertuie se instandhoudingskoste het verlaag en besighede se logistieke doeltreffendheid het verbeter.

“Die belangrikste aanbeveling van die paneel is dat elemente van die huidige e-tolstelsel hersien moet word om die vrae oor bekostigbaarheid, gelykheid, regverdigheid, administratiewe eenvoud en volhoubaarheid aan te spreek,” het hy gesê.

Openbare vervoerinfrastruktuur, omgewingsvolhoubaarheid en ruimtelike integrasie van die Gauteng-provinsie is ook onder die loep geneem.

Die Departement van Vervoer sê hy sal reageer op die bevindings en aanbevelings van die Gautengse hersieningspaneel deur middel van die raadplegende proses wat deur adjunk-president Cyril Ramaphosa gelei word.

‘n Woordvoerder van die departement sê hulle sal aan die proses deelneem en dat die nasionale regering daarna ‘n aankondiging sal doen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.