Verbod op Namibiese vleisuitvoer na bek-en-klouseer

Deel op

Die departement van landbou in die Filippyne het ’n tydelike verbod op die invoer van enige lewendehawe of -produkte uit Namibië geplaas, het die Republikein berig.

Die verbod volg na ‘n kennisgewing deur die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) oor die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in die Zambezistreek.

Proceso Alcala, sekretaris van landbou in die Filippyne, het die tydelike verbod in Desember afgekondig om dié land se dieregesondheidstatus te beskerm en nie voedselsekuriteit in die gedrang te bring nie, lui ’n kennisgewing op die departement se webtuiste.

“Ons kan nie bekostig om kanse te vat nie. Ons is ’n BKS-vrye land en is dus uiters waaksaam om nie enige diere of diereprodukte uit lande waar die siekte teenwoordig is, in die Filippyne toe te laat nie,” sê hy.

Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in Namibië het vroeg in Desember aangekondig dat bek-en-klouseer in die Linyanti-kiesafdeling in die Zambezi uitgebreek het.

’n Verbod op die bewegings van lewendehawe en -produkte in die streek is dadelik ingestel en die slag van vee by die abattoir op Katima Mulilo is opgeskort.

Namibië se kommersiële boerdery-gebiede suid van die veterinêre kordon, of rooilyn soos dit algemeen bekend staan, is vry van bek-en-klouseer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.