Links en regs

Deel op

Links en regs in die politiek is allesbehalwe duidelike begrippe. Die onderskeid is wel duidelik waar dit gaan om verregs en verlinks. Niemand sou byvoorbeeld wou ontken dat mnr Joe Slovo en mnr Eugène Terre’Blanche nie veel in gemeen het nie, maar tussen hierdie twee uiterstes is daar ‘n hele spektrum politieke houdings en skakerings van allerlei aard. Baie mense, miskien die meerderheid, is ‘n bietjie regs of ‘n bietjie links of soms die een en dan weer die ander. Ongelukkig is baie ook gewoon ideologiese outomate.

Uiteraard lê die oorgrote meerderheid sienswyses in die middelveld tussen die twee uiterstes van links en regs. In ‘n normale demokrasie speel mense wat die middelveld doelbewus as voorkeurterrein gekies het, ‘n belangrike rol as stabiliserende en matigende invloed. In ‘n skeefgetrekte (of dalk gedrogtelike) «demokrasie» soos in Suid-Afrika, is die middelveld net totaal irrelevant en speel gewoon die rol van nuttige idiote wat deur politieke kragte tot hulle eie voordeel gemanipuleer word en geen betekenisvolle bydrae tot die politieke gesprek, of die politieke stryd te lewer het nie. Dis allermins so dat politieke «waarheid» iewers tussen verregs en verlinks geleë is. Die middelgrond het net soseer die potensiaal om verkeerd te wees as die uiterstes van links en regs.

Die middelterrein word natuurlik ook beset deur ‘n groot aantal mense wat geen menings hoegenaamd het nie, sy dit na links of na regs, of wie se sienswyses so verward en teenstrydig is, dat dit eintlik niksseggend is. Kom ons noem hulle maar die 7de-laan-kategorie, wat nie eers die status van nuttige idiote bereik nie. Maar dit is so dat ‘n volk bestaan uit alle soorte en dat diesulkes ook met verdraagsaamheid en liefde bejeën moet word. En met ‘n bietjie geluk maak ons dalk van hulle óns idiote!

Iemand, maak nou nie juis saak wie nie, het onlangs die opmerking gemaak dat ekstreemregs en ekstreemlinks uiteindelik bymekaar uitkom. Daar steek ‘n stuk waarheid in. Dis moeilik om te sê of Hitler ten slotte ekstreemlinks (diktatoriaal, sosialisties, ens) of ekstreemregs (diktatoriaal, militaristies en aggressief) was en so ook Stalin (diktatoriaal, sosialisties, militarisies en aggressief). Aanvanklik was hulle bondgenote en daarna in ‘n oorlog met mekaar gewikkel, nie om ideologiese redes nie, maar om redes van strategiese olie, grondstowwe, ens), want ideologies was daar weinig verskil.

Maar miskien hoef ons nie verder na voorbeelde te soek nie as hier by ons waar die Nasionale Party op ‘n stadium so ekstreemregs was dat hulle omgeslaan het in hulle eie teenoorgestelde soos ‘n pofadder wat sy eie stert byt. Vanaf die punt waar hulle Distrik Ses van die aangesig van die aarde afgevee het, tot op die punt waar Adriaan Vlok ANC-terroriste se voete gewas het, was maar net ‘n hanetreetjie.

‘n Veel nuttiger aanduiding as links of regs van waar iemand hom op die politieke spektrum bevind, is om te vra wat sy sienswyse is omtrent bepaalde temas (kwessies), byvoorbeeld, waar staan jy ten opsigte van gemengde huwelike, rassekwotas in sport, verengelsing van universiteite, die onderdrukking van godsdiensbeoefening op skool, regstellende aksie of transformasie, politieke selfbeskikking vir Afrikaners, vrugafdrywing, homoseksuele huwelike, die kolonisering van grondgebied in die Midde-Ooste deur Israel, ongebreidelde immigrasie vanuit die derde wêreld na Europa, en so meer.

‘n Feit wat ons onder die oë moet sien, is dat linkse ideologieë vandag in die Westerse wêreld die botoon voer, dermate dat sienswyses wat nie erg links is nie, net nie gedoog word nie, of verbied word of doodgeswyg word of met beledigings afgemaak word. Om in vandag se klimaat gematig te wees, is alreeds om as regse of fassis of ekstremis getipeer te word. Jy moet links wees en basta. Daaraan is vir die oomblik nie veel te doen nie.

‘n Uitsonderlike geval waar ‘n betekenisvolle politieke beweging dit waag om suksesvol ‘n ander mening in die openbaar te huldig, is die FN van Marine Le Pen in Frankryk. Die vordering wat sy maak, is nie met behulp van die media nie, maar ten spyte daarvan. Feit is dat Marine Le Pen en die FN alles behalwe ekstreemregs is, soos bv mnr Leopold Scholtz in Die Burger wil beweer, maar ‘n patriotiese beweging wat ten doel het om die mag terug te neem van die oligarge in Brussel en terug te besorg aan die Franse volk soos dit ‘n ware demokrasie betaam. Vir hierdie rede word die FN natuurlik deur die media as ekstreemregs voorgestel. Dit pas in die patroon dat alles wat nie links, of selfs ekstreemlinks is nie, in die Westerse wêreld gewoon ekstreemregs is. ‘n Toonbeeld van die swaksinnigheid waardeur ons tydvak gekenmerk word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.