Die Palestynse president Magmoed Abbas en die Israelse eersteminister, Benjamin Netanjahoe, sal vandag in Parys saam aan die betoging teen terreur deelneem wat deur die Franse regering “in die naam van die republiek” georganiseer word. Die opposisiepolitikus, Marine Le Pen, wie se Front National tans die grootste politieke party met die meeste steun in Frankryk is, mag egter nie daaraan deelneem nie.
Die betoging volg op die terreuraanval op die kantore van Charlie Hebdo, ‘n satiriese tydskrif, waarin 12 mense dood is. Twee verdagtes, die broers Said en Cherif Kouachi, is reeds in ‘n skietgeveg met die Franse polisie in die dorpie Dammartin-en-Goële doodgeskiet sonder dat hul skuld bewys is.