SA Kommunisteparty wil koerante, webwerwe sensor – weens ‘rassisme’

Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) het vandeesweek gedreig dat hy webwerwe en die aanlynweergawes van koerante mag sluit omdat kommentaarblaaie nie “genoegsaam gereguleer word nie”. Nzimande het dié uitlatings gemaak tydens die twintigjarige herdenking van Joe Slovo se sterfdatum by die Avalon-begraafplaas in Soweto.

Volgens Nzimande laat koerante “rassiste” toe om op hul aanlynkommentaarblaaie “beledigings te slinger”. Hy meen dat koerante en webwerwe vanself “rassistiese kommentaar moet sensor”. Hy het gesê:

“In die naam van Joe Slovo moet ons die stryd teen rassisme op alle fronte verhewig. Daar is te veel rassisme en haatspraak op die internet.

Los Twitter en Facebook uit. Waaroor ons begaan is, is al die mediahuise wat oor internetplatforms beskik. Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar vir mense wat op hul stories kommentaar lewer.

Die haat, die haatspraak, die rassisme, die seksisme wat daarop voorkom, ‘n mens mag nie koerante hê wat iets op die internet toelaat wat hulle nie in hul gedrukte weergawes kan druk nie. Dis walglik, ons doen ‘n beroep op Sanef en al die mediahuise om verantwoordelikheid te aanvaar vir alles wat daar geskryf word. As jy mense toelaat om op jou artikels op die internet te reageer, moet jy daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.”

Nzimande het gesê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet ingryp teen die rassisme wat die internet “oorstroom”. Hy meen:

“In die toekoms gaan daardie mediahuise gedagvaar word vir wat daar geskryf word. Ons doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie om dit dop te hou en die stappe aan te beveel wat rondom dié rassisme geneem moet word wat veral op die mediahuise se platvorms versprei word.”

Die voorsitter van die Freedom of Expression Institute, prof. Anton Harber, het met mnr. Nzimande saamgestem oor die rassisme en haatspraak op die internet, maar wou nie hê die regering met met die mediahuise inmeng nie.

“Nzimande is reg om oor rassisme en haatspraak op die internet begaan te wees, maar ek is nie seker dat die probleem by die vernaamste mediahuise lê nie.

Die mediahuise is reeds wetlik en eties vir hul eie webwerwe verantwoordelik en word verplig om onwettige haatspraak en rassisme te voorkom.

Ek hoop Nzimande stel nie voor dat die regering begin om inhoud te reguleer en om by die webwerwe van ons mediahuise in te meng nie, aangesien dit die vermoë van die internet om aan burgers ‘n stem te verleen om openbare deelname te bevorder, sou kortwiek.”

Die voorsitter van die nasionale redakteursforum (Sanef), Mpumelelo Khabela, meen daar is reeds stappe geneem om “ongewenste inhoud” aanlyn te verminder. Hy sê:

“Nzimande is onbewus van wat Sanef reeds doen. Dis vir ons aangenaam om hom in kennis te stel dat daar by ons laaste algemene vergadering in Kaapstad besluit is om ‘n samevoegingskomitee aan te stel om meganismes te vind wat inhoud in die multimediaruimte kan reguleer.

Ons ontwikkel ‘n beheergmeganisme nie vanweë druk nie, maar omdat ons slegs dít wat eties gesond is publiseer.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.