Die CharlieHebdo-aanval: Frankryk en Algerië se gelade geskiedenis

Deel op

‘Tydens Algerië se bittere stryd om onafhanklikheid tussen 1954 en 1962 is tot ’n miljoen Algeryne – sowat ’n tiende van die hele bevolking – deur die Franse weermag doodgemaak.’

Deel op

Dit is glad nie verbasend dat die broers wat van die Charlie Hebdo-aanval verdink word van Algerynse oorsprong is nie. Die Mediterreense hartland van Algerië was vir langer as ’n eeu een van Frankryk se “departemente”. Digbevolkte Arabiese stede soos Algiers en Oran was nie koloniale buiteposte nie, maar – in die oë van die wet – net so ’n integrale deel van Frankryk soos Calais, Marseille of Parys.

Die moeilikhede van Algerië was dus nooit iets vreemds vir Frankryk nie. Die feit dat Cherif en Said Kouachi, die broers wat daarvan verdink word dat hulle vir die Charlie Hebdo-slagting verantwoordelik was, van Algerynse afkoms is, is nie verbasend nie.

Algerië se ellendes het al geslagte lank ’n uitwerking op Parys. Tydens die land se bittere stryd om onafhanklikheid tussen 1954 en 1962 is tot ’n miljoen Algeryne – sowat ’n tiende van die hele bevolking – deur die Franse weermag doodgemaak in ’n futiele poging om die vryheidsbeweging te vernietig.

Hierdie wrede oorlog het die val van ses regerings in Parys veroorsaak. Toe Charles de Gaulle oor ’n skikking begin onderhandel het, het die Franse weermag in 1960 gemuit en by die opstand van die Franse setlaars in Algerië aangesluit.

Tenks is buite die Assemblée Nationale in Parys ontplooi om teen ’n moontlike militêre staatsgreep te waak: vir ’n ruk het die oorlog in Algerië byna in ’n burgeroorlog in Parys ontaard.

Uiteindelik het Algerië sy onafhaklikheid in 1962 bekom en een miljoen Franse setlaars, bekend as die pieds noirs (swart voete), is uit die land gesit.

Honderde duisende Moslemse Algeryne het ook na Frankryk getrek, insluitende die voorsate van die Kouachi-broers. Vandag is die Moslems van Algerynse afkoms die grootste enkele minderheidsgroep in Frankryk.

Gegewe die bitter herinneringe aan die onafhanklikheidstryd, het immigrante vanuit Algerië nog altyd ’n moeilike verhouding met hul aangenome land gehad. En baie van hulle het noue bande met gebeure in hul ou land behou.

Vanaf 1993 het radikale Islamiete ’n guerrilla-oorlog teen die Algerynse staat gevoer. Die Noord-Afrikaanse tak van al-Kaïda het uit hierdie skaduagtige konflik ontstaan, wat minstens 100 000 lewens geëis het.

Die bloedbad het onvermydelik na Frankryk versprei. Die Gewapende Islamitiese Groep – wat later “al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb” geword het – het die moltrein in Parys in 1995 onder die bomme gesteek en agt mense gedood en 100 gewond. Agter die skerms is Algerië se stryd teen die Islamiete bygestaan deur die DGSE, Frankryk se ekwivalent van MI6 of die CIA.

Net soos Brittanje deur die beroeringe in Pakistan weens historiese en demografiese redes geraak is, so het Frankryk selfs ’n nouer band met Algerië – en ’n veel groter, netelige nalatenskap.

In die woorde van Albert Camus – self ’n pied noir vanuit Algerië: “Die plaag-bacillus gaan nooit dood of verdwyn nie vir altyd nie . . . miskien sal die dag aanbreek wanneer, tot die heil en opvoeding van die mens, dit sy rotte weer sal opwek en hulle sal uitstuur om in ’n gelukkige stad dood te gaan.”

Uit Britse bronne vertaal deur Ina du Toit

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.