Wilhelm Jordaan projekteer witskuldsindroom op jong Afrikaners

Deel op

‘n Rubriekskrywer van Beeld, Wilhelm Jordaan, projekteer die witskuldsindroom van sy eie geslag op jong Afrikaners wat heeltemal in ‘n ander wêreld grootword as dié waaraan ons op hul ouderdom gewoond was. Wat hy “negativisme” noem, verteenwoordig bloot hul empiriese waarneming van die huidige maatskappy met sy ongekende geweld, misdaad, korrupsie, verkwisting en intellektuele vervlakking.

danr2Eintlik lewer Jordaan ‘n pleidooi vir nóg groter breinspoeling van jongmense as dít waaraan hulle reeds op skool blootgestel word! Deur middel van vakke soos lewensoriëntering en geskiedenis waar slegs die marxistiese weergawe deur Ruth First, Luli Callinicos en ander op skool toegelaat word, word daar gepoog om van elke Afrikanerkind ‘n “Pawlik Morosof” te maak. Pawlik Morosof was natuurlik die kinderheld wat sy eie ouers aan die Sowjetowerheid gaan verkla het omdat hulle nie goeie kommuniste was nie en is agterna deur Stalin tot ‘n eksemplariese voorbeeld vir die jeug verhef.

Vandag se jongmense het egter toegang tot die globale wêreld via die internet en maak vriende in ander lande waar soortgelyke probleme met die multikulturele samelewing as in Suid-Afrika voorkom. Hulle speel aanlynrekenaarspeletjies, gesels via “Teamspeak” en gebruik sosiale media op hul rekenaars en mobiele toestelle.

aweregs

Ironies voed die internet “nostalgie”, en tieners ontdek dikwels die musiek, modes en style van vorige dekades aanlyn. ‘n Mens hoef nie Spengler of Toynbee te gelees het om te besef dat die hoogtepunt van die Europese beskawing – waarvan Suid-Afrika eens deel was – agter ons lê nie. Insgelyks sal ons land en die Afrikaanse kultuur nooit weer die hoogtepunte van die sestigerjare bereik toe Afrikaanse films dié van Hollywood by die loket uitgestof en Etienne Le Roux se romans verskeie drukke beleef het nie.

Vir seker skop jongmense teen die prikkels en wonder waarom hulle nie toegang verkry tot mediese studie nie, bloot op grond van hul afkoms, of waarom daar oral rassekwotas geld terwyl die grondwet van sogenaamde “nie-rassigheid” praat.

Kritiek op die huidige bewind en stelsel woed oral: op sosiale media, rondom die braaivleisvuur en selfs in die hoofstroommedia waar alles wat skeef loop nie langer verdoesel kan word nie. Ek is bevrees die soort linkse sensuur wat destyds in die Sowjetunie gegeld het, is vanweë die ontwikkeling in kommunikasietegnologie net nie meer moontlik nie. Daarom verteenwoordig Jordaan en ander se fulminasies teen nostalgie ‘n agterhoedestryd, soos die Franse sê.

Eintlik kort ons méér nostalgie, nie minder nie. Wie sou nie weer via ‘n roman of fliek in ‘n Cortina GT wou ry met Jim Reeves wat via die agtspoorkasset ‘n country-liedjie sing nie? Of die middestad van Johannesburg en buurte soos Hillbrow wou ervaar soos dit wás, alvorens die Groot Transformasie plaasgevind het?


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.