Die voertuie gaan ongeveer 140 dorpe aandoen op hulle 4 200-kilometerreis vanaf Gauteng oor Kaapstad en Durban. SA Sonkrag Uitdaging-organiseerder Johan Viljoen sê die gebeurtenis word beskou as 'n uitdaging eerder as 'n wedren en die doel is om openbare bewustheid oor alternatiewe brandstof- en vervoertegnologie te stimuleer. Die weer was op die eerste dag tussen Pretoria en Kimberley vir die grootste gedeelte van die oggend betrokke.
Die vinnigste motor (uit Japan) kon 'n topspoed van slegs 80 kpu behaal weens die tekort aan sonkrag. Drie Suid-Afrikaanse voertuie neem deel – een elk uit Johannesburg, Kaapstad en Pretoria. Twee spanne elk uit Indië, Japan en Maleisië (waarvandaan die bromponie kom) maak die ander deelnemers uit.
Viljoen sê dit is jammer dat daar geen spanne uit Durban is wat deelneem nie omdat die Universiteit van Kwazulu-Natal die eerste universiteit in die land was wat 'n sonkrag-aangedrewe motor gebou het. Indien niks voorval nie gaan sewe baie snaakse voertuie Sondagmiddag in Durban aankom.
Al die voertuie gaan Maandag by die openbare vertoning van MTN se Wetenskapsentrum by Gateway in Umhlanga te sien wees voordat hulle op die finale been van hulle terugreis na Johannesburg vertrek. Mense sal met die spanlede oor hulle motors en die ongewone tegnologie kan gesels.
'n Soortgelyke 3 000-kilometeruitdaging word sedert 1983 in Australië gehou maar die Suid-Afrikaanse gebeurtenis is meer veeleisend omdat die voertuie met byna 70 kilometer steil opdraandes te doen kry terwyl die Australiese wedren oor 'n feitlik plat terrein gehou word.