Aanval op Charlie Hebdo verdiep kloof tussen links en regs

Deel op

Die skok in Frankryk na Woensdag se dodelike aanval is enorm. Dit is, na alles, die mees moorddadige aanval op Franse bodem sedert die tyd van die koloniale oorlog in Algerië meer as 50 jaar gelede.

Twee van die slagoffers – Georges Wolinski en Cabu – is reeds jare bekend vir hul spotprente. Hul werk is al deur miljoene gadegeslaan, veral op televisie waar Cabu groot bewondering afgedwing het met spotprente wat hy tydens ‘n lewendige uitsending van ‘n gewilde politieke debatsprogram gemaak het. Wolinski het die Legion d’Honneur ontvang vir sy erotiese tekeninge.

Die staatsleiers se emosionele reaksie was vervat in die oproep tot eenheid. President Francois Hollande het dieselfde dag ‘n oproep om Franse eenheid gedoen want “ons beste wapen is dat niks ons kan verdeel nie…”

Maar net ure vroeër het ‘n Franse vrou van Arabiese afkoms in trane op TV gekla dat almal in haar kantoor haar dieselfde middag verdag aangegluur het.

En die ander giftige feit is dat ‘n Charlie Hebdo-joernalis, ‘n oorlewende van die aanval, berig het dat die moordenaars vlot Frans gepraat het.

Binne ure het die ongewilde Sosialiste met hul vrome oproepe tot eenheid, egter hul weg oopgesien om die aanval op die mees siniese wyse vir politieke doeleindes te ontgin, en die regses van “haat” beskuldig. Vingers is gewys na kritici van Islamitiese fundamentalisme maar nie na die fundamentaliste nie.

Die weeklikse satiretydskrif publiseer gereeld spotprente wat veral spot met die profeet Mohammed en Christene.

Dit het gelei tot dreigemente, ‘n petrolbomaanval in 2011, die behoefte aan voltydse polisiebeskerming en selfs harde woorde van die Franse minister van buitelandse sake wat verklaar het dat dit nie intelligent van die tydskrif is om “olie op die vuur te gooi nie”.

Charlie Hebdo het hom natuurlik geïgnoreer. Hierdie week se uitgawe het op sy voorblad ‘n spotprent oor Soumission, die omstrede nuwe roman deur Michel Houellebecq wat pas eergister (7 Januarie) verskyn het.

Soumission (Onderwerping) se verhaal is eenvoudig: Net ‘n paar jaar van nou af verkies Frankryk ‘n Moslempresident in ‘n poging om die “verregse”, anti-immigrasie-Front National van Marine Le Pen te verhoed om aan die mag te kom.

Kritici het die boek geloof wat ‘n nagmerrie-scenario uitbeeld wat dikwels deur die Front National self geskets word.

Maar Sosialiste is woedend oor die boek. Hulle meen dit verteenwoordig ‘n geskenk, aan die Front National se leier Marine Le Pen.

Die moorddadige aanval op Charlie Hebdo is in Frankryk se geval ‘n verdere polarisering tussen ‘n groeiende Moslembevolking van meer as vyf miljoen mense en ‘n toenemend invloedryke regse party wat immigrante as die bron van die land se probleme uitwys.

Frankryk is nie alleen nie. Langsaan is Duitsland waar die regering van Angela Merkel met konsternasie die groterwordende anti-Islamitiese optogte wat oral in die land die afgelope week plaasgevind het, dophou.

Duitsland het ‘n soortgelyke groot Moslem-bevolking, wat hoofsaaklik uit Turke saamgestel is.

Hul kinders is nou burgers van ‘n land wat ook nie wil buig voor hul godsdiensvoorkeure nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.