Swartrenoster kan uitsterf in 2015

Deel op

Die swartrenoster is een van 13 spesies wat die wêreld dalk vanjaar moet groet en nooit weer lewendig gesien gaan word nie, het die Republikein berig.

Met net meer as 4 800 swartrenosters in die wêreld oor, sal selfs die vurigste bewaringspogings nie help om stygende renosterstropery en die verhoogde aanvraag na renosterhorings op die swartmark in veral Asië, te verminder nie.

Volgens dr. Derek Tittensor, ’n marine ekoloog van die Wêreldbewaringmonitorsentrum in Cambridge, Engeland, is die swartrenoster een van 13 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf.

Verlede jaar is minstens 24 renosters, waarvan die meerderheid swartrenosters, in Namibië gestroop.

Tittensor sê die wêreld is besig om dosyne spesies daagliks te verloor en kundiges noem dit die sesde massa-uitwissing in die geskiedenis van die aarde. Soveel as 30% tot 50% van alle spesies beweeg na uitwissing in die middel van die eeu. Vingers wys na net een skuldige: die mens.

“Habitatverwoesting, besoedeling en onwettige visvang dood wilde diere en plante of los hulle in ’n erg verswakte toestand. Die probleem is die bykomende bedreiging van klimaatverandering gaan in komende dekades vererger en nog meer van hierdie oorlewendes laat vrek,” sê Tittensor.

Sowat 190 nasies het einde verlede jaar die Verenigde Nasies (VN) se beraad oor klimaatverandering in Lima, Peru bygewoon vir optrede om stygende groenhuisgasse te verminder.

Korrupsie en onwettige aanlynhandel bedreig ook bewaringspogings. Die onwettige handel in wildlewe word op sowat U$10 miljard per jaar bereken. Dit is die vyfde grootste smokkelhandel ná dwelms, aangevuur deur die stygende vraag na wilde diere as troeteldiere, trofeë en bestanddele in medisyne, voedsel en ander produkte.

“Dit is ’n opdraande stryd teen die mens se onvolhoubare gierigheid en verbruik, maar dit is ’n geveg wat ons nie mag verloor nie,” sê Tittensor.

Die ander 12 spesies wat moontlik vanjaar kan uitsterf, is die oostelike luiperd (net sowat 30 is in die wildernis oor), die Sumatra-olifant, Java-renoster, leerskilpad, die westelike laelande gorilla (wat ook veral weens die Ebola-virus gevrek het), die saola, vaquita (nog net sowat 100 oor), die Siberiese tier, berggorilla, die groter bamboeslemur (sowat 60 in die wildernis en 150 in aanhouding op Madagaskar), die Sumatra oerangoetang en die Yangtze vinlose tornyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.